Die Engelse Krieketraad het Maandag aangekondig dat die Yorkshire-kolwer Harry Brook die nuwe kaptein van die mans se witbalspan is.
Brook neem die plek van Jos Buttler in, wat ná die Kampioenetrofee in Pakistan die leisels neergelê het. Engeland het nie 'n baie goeie toernooi beleef nie.
Die 26-jarige Brook het 'n baie groot rol gespeel in Engeland se witbal-opset sedert hy in Januarie 2022 sy debuut gemaak het. Hy word as een van die land se beste kolwers in alle formate beskou.
Brook is tans die tweede gekeurde kolwer in toetskrieket op die Internasionale Krieketraad (IKR) se ranglys. Hy is die afgelope twee jaar die onderkaptein van die eendag- én T20-span.
Brook het verlede jaar die Engelse in die eendagreeks teen Australië gelei toe Buttler nie beskikbaar was nie. Hy het groot lof gekry vir sy leierskap in dié reeks.
Hy was ook kaptein van die Engelse Jong Leeus, wat in 2018 aan die o. 19-toernooi in Nieu-Seeland deelgeneem het.
Brook het tot dusver in 26 eendagwedstryde vir Engeland gespeel en 816 lopies aangeteken teen 'n gemiddeld van 34.00. Sy hoogste telling is 110 lopies.
In T20-wedstryde het hy al 44 keer vir sy land uitgedraf, met 'n hoogste teling van 81. Hy was ook lid van die Engelse span wat in 2022 die T20-Wêreldbeker verower het.
"Dit is 'n groot eer om as kaptein van Engeland se witbal-span aangewys te word. Ek het altyd gedroom daarvan om vir Engeland te speel en om dalk eendag die span aan te voer," het Brook Maandag gesê.
"Om nou uiteindelik daar uit te kom, is vir my iets baie spesiaal."
Engeland begin sy witbal-veldtog aan die einde van Mei met 'n tuisreeks teen die Wes-Indiese Eilande. - Reuters





















