Krieket

Buttler bedank as kaptein van sukkelende Engelse

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jos Buttler speel ’n hou in Engeland se kragmeting teen Afganistan in die Kampioenetrofee in Lahore. Foto: Getty Images
Jos Buttler speel ’n hou in Engeland se kragmeting teen Afganistan in die Kampioenetrofee in Lahore. Foto: Getty Images

Engeland se krieketspan se gesukkel in die Kampioenetrofee het Jos Buttler genoop om die leisels as kaptein van die land se witbal-spanne neer te lê.

Die Engelse kon nie vir die halfeindronde van die toernooi, wat tans in Pakistan beslis word, kwalifiseer nie. Hul laaste groepwedstryd, wat ook Buttler se laaste as kaptein was, is Saterdag teen Suid-Afrika in Karachi beslis.

"Ek gaan die tuig neerlê as Engeland se kaptein. Dit is die regte besluit vir my en die span," het die 34-jarige Buttler op 'n mediakonferensie gesê.

"Dit was duidelik dat die uitslae in hierdie toernooi baie belangrik vir my kapteinskap was."

Engeland het 15 van sy laaste 21 eendagwedstryde verloor.

Met Buttler as kaptein kon die Engelse nie daarin slaag om hul titels in die T20-Wêreldbeker of die Wêreldbeker te behou nie. Kort nadat hy in 2022 as Engeland se kaptein aangestel is, het die span die T20-WB gewen.

Engeland het sy eerste kragmeting in die Kampioenetrofee, teen Australië, met vyf paaltjies verloor, en daarna met agt lopies teen Afganistan verloor.

In die 44 eendagwedstryde waarin Buttler kaptein was, was die Engelse 18 keer aan die wenkant en 25 keer aan die verloorkant. Een wedstryd het geen uitslag opgelewer nie.

Wat T20-krieket betref, het Buttler Engeland in 51 wedstryd aangevoer, waarin die span 26 keer gewen en 22 keer verloor het. Drie wedstryde het geen uitslag opgelewer nie.

Sedert Buttler in 2011 sy debuut vir Engeland in T20-krieket gemaak het, het hy 3 535 lopies in 134 wedstryde teen 'n treftempo van 146.61 aangeteken. Hy het al in 186 eendagwedstryde gespeel waarin hy 5 175 lopies teen 'n gemiddeld van 39.20 aangeteken het.

Buttler het ook al in 57 toetse vir Engeland diens gedoen.- AFP, Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM