Johan Clarke, Boland Krieket se waarnemende president en 'n veroordeelde misdadiger, het Vrydagaand op 'n lederaadsvergadering in die Paarl bedank.

"Hy het dit vrywillig gedoen in die beste belang van die organisasie," sê James Fortuin, Boland se uitvoerende hoof.
As 'n tronkbewaarder in Upper Hutt buite Wellington, Nieu-Seeland, het Clarke tussen 2008 en 2009 onwettige goedere by die tronk ingesmokkel. Die smokkelware het ingesluit dagga, kristalmetamfetamien, Kentucky Fried Chicken, tandevlos en hoestablette.
In ruil daarvoor het hy kontant, 'n skootrekenaar en die belofte van seksuele gunste met 'n naamlose vrou aan die buitekant ontvang.
Nadat hy skuldig bevind is, is hy tot twee jaar en drie maande tronkstraf gevonnis, waarvan hy agt maande uitgedien het in wat hy 'n "rehabilitasiesentrum" genoem het.
Daar was 'n sterk gevoel in sommige Bolandse krieketkringe dat Clarke, wat die Hermanus-krieketklub verteenwoordig, genoeg gely het toe hy na Suid-Afrika teruggekeer het. Ná maande se bespiegeling of hy in sy pos as waarnemende president gaan aanbly, het hy besluit om te bedank.
• Meer besonderhede het intussen na vore gekom in Krieket Suid-Afrika (KSA) se teenkorrupsie-ondersoek na skelmstreke in September se Boland T10.
Bronne wat by die toernooi betrokke is, sê byvoorbeeld organiseerders was baie gemaklik om bekend te maak dat die toernooi hoofsaaklik ontwerp is om die aptyt vir aanlyn sportweddenskappe in Indië te bevredig, waar dit onwettig is.
Dit, gekombineer met 'n aantal verdagte aktiwiteite om en tydens die toernooi, beteken dat die anti-korrupsie-ondersoekers Louis Cole en Jenny Naidoo, wat die unie verlede week besoek het, die moontlikheid van wedstrydknoeiery of manipulasie van uitslae in die Boland T10 ondersoek.
Ander verdagte aktiwiteite sluit in: Vier afsonderlike toenaderings van beroepswedders of beroepswedders se verteenwoordigers tot óf gekontrakteerde Boland-spelers (Glenton Stuurman, Lehan Botha) óf Boland-klubspelers (Charlie Fransman) of 'n afrigter in die toernooi vir spanne met ses spelers aan 'n kant.

Dit blyk dat beroepswedders wat spelers genader het, dikwels via Instagram en soms op Facebook, boulers verkies het.
Verdere verdagte aktiwiteite sluit in beweerde twyfelagtige skeidsregtersbeslissings (min been-voor-paaltjie-beslissings in die eerste helfte van die toernooi) en minstens een voorval waar die aanvanklike uitslag ná hersiening omgekeer is. Dit het gebeur in die Overberg Indwe se wedstryd teen Weskus Blue. Die regverdiging hiervoor was dat "dit die borge gelukkig sou hou".
"Daar was ook 'n situasie waar spanne nie verander kon word nie," het 'n lid van Boland se operasionele personeel aan Rapport gesê. "Jy moes die spanlyste aan James (Fortuin) voorlê met al die name en selfoonnommers van die spelers in elke span. En die spanne kon nie verander word nie."
Fortuin het lede van die krieketgemeenskap egter versoek om 'n oop gemoed te behou: "Die KSA-teenkorrupsie-ondersoek is aan die gang. Ons wag op die uitslag en ons vra mense met respek om nie die proses vooraf te beoordeel nie."
Die Boland T10 is regstreeks via die stroomplatforms Fancode en Styx Sport op YouTube uitgesaai. Fancode beskryf homself op sy webwerf as "Indië se eerste regstreekse stroomplatform".
• Rapport kan ook intussen bevestig dat Standard Bank drie Mercedes Benz-busse van Noord-Kaap Krieket (NKK) teruggevat het.
KSA het in Februarie sy optreeregte by die unie geaktiveer en Jesse Chellan, voormalige uitvoerende hoof, as administrateur van die bankrot unie aangestel.
Saam met die unie, wat deur KSA onder administrasie geplaas is, het 'n regter van die hooggeregshof ook vyf NKK-raadslede tot "misdadig" verklaar. Dit sluit in Gibson Molale, president, Thapelo January, uitvoerende hoof, asook Mbulelo Bosman, hoof van die finansiële sub-komitee.
RAPPORT PRAAT SPORT




















