Eendagreeks

Nuwe begin in Kaap vir Corbin Bosch

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit was nie vir Corbin Bosch 'n maklike besluit om die Jakarandastad vaarwel toe te roep en die besluit te neem om sy krieketloopbaan in Kaapstad voort te sit nie.

Corbin Bosch gaan sy kartetse voortaan vir die Cobras afstuur. Foto: Gallo Images
Corbin Bosch gaan sy kartetse voortaan vir die Cobras afstuur. Foto: Gallo Images

"Ek het behoorlik gewik en geweeg wat om te doen toe die kans hom voordoen om by die Cape Cobras aan te sluit," erken dié snelbouler van die Titans, wat nou deel is van die Cobras se nuwe gekontrakteerde groep.

"Ek het lank en ernstig met al die belangrike mense in my lewe daaroor gepraat," sê hy.

"Hierdie is wel 'n opwindende skuif en 'n vars en nuwe begin. Ek kan nou ook met 'n nuwe uitkyk my krieket benader," sê hy.

By die Titans kon Bosch hom nooit behoorlik vestig nie.

"Ek het die heeltyd iemand voor my gehad wat 'n nasionale speler was en beserings het ook 'n rol gespeel dat my loopbaan daar nie regtig die momentum kon kry wat ek sou wou hê nie," sê hy.

"Ouens soos Chris Morris het dikwels my pad versper en ek moes tevrede wees om in die tou agter hulle te staan. Ek het in Pretoria grootgeword en het nog al my krieket in Suid-Afrika vandaar gespeel," sê hy.

"Om nou Kaap toe te gaan, sal wel 'n aanpassing wees, maar ek het dit nog altyd geniet om op Nuweland en in die Paarl te speel. Ek voel die toestande daar sal my spel pas," sê Bosch, wie se jonger broer Eathan al dikwels vir die Dolphins gespeel het.

Corbin het ook enkele seisoene gelede in Australië gaan speel, maar ná slegs enkele seisoene teruggekeer na Pretoria.

"Ek voel hierdie skuif kan egter die beste vir my loopbaan wees. Daar is sekere sielkundige aspekte van die spel wat ek sal moet hanteer en regkry. Ek gaan ook hard werk om fisiek sterker te word. Ek voel ek kan beslis 'n rol as veelsydige speler speel en die nuwe omgewing is dalk net wat my krieketlewe nodig het," sê hy daarvan om nou 'n Kapenaar te word.

Christo Buchner

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM