Krieket

Kampioenetrofee uiteindelik hier

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die toernooi om die Kampioenetrofee begin Woensdag.  Foto: AFP
Die toernooi om die Kampioenetrofee begin Woensdag. Foto: AFP

Die toernooi om die Kampioenetrofee begin Woensdag ná 'n onstuimige opbou, wat die gasheer, Pakistan, gedwing het om Indië sy wedstryde in Dubai te laat speel, terwyl Engeland onder politieke druk was om sy wedstryd teen Afganistan te boikot.

Dié toernooi, wat naas die Wêreldbeker as die belangrikste in die eendagformaat beskou word, duur tot 9 Maart en is die eerste internasionale kriekettoernooi wat Pakistan in byna drie dekades aanbied.

Indië se wedstryde sal egter in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel word nadat die sport se finansiële supermoondheid weens langdurige politieke spanning geweier het om sy buurman te besoek.

'n Maand lange dooiepunt het in Desember geëindig toe die Internasionale Krieketraad (IKR) aangekondig het dat Indië sy wedstryde in Dubai gaan speel.

Dít beteken natuurlik dat daar 'n goeie kans is dat die eindstryd buite Pakistan sal plaasvind aangesien Indië as een van die groot gunstelinge beskou word om die toernooi te wen.

Indië en sy aartsvyand, Pakistan, wat mekaar weens die stram politieke verhouding tussen die lande net in IKR-toernooie die stryd aansê, bots op 23 Februarie in die groepfase in Dubai.

Engeland speel drie dae later in Lahore teen Afganistan in 'n wedstryd wat nie almal in Brittanje se goedkeuring wegdra nie.

Meer as 160 Britse politici het vroeër vir 'n boikot gevra in reaksie op die Taliban-regering se vertrapping van vroueregte, wat hulle onder meer nie toelaat om sport te beoefen nie.

Richard Thompson, voorsitter van die Engelse en Walliese Krieketraad, het belowe dat die wedstryd sal voortgaan, en gesê 'n "gekoördineerde internasionale reaksie" deur die krieketgemeenskap sal meer as eensydige optrede deur Engeland bereik.

Die toernooi om die Kampioenetrofee sal Pakistan se eerste IKR-byeenkoms wees sedert hy in 1996 die Wêreldbeker saam met Indië en Sri Lanka aangebied het.

Karatsji en Rawalpindi is die ander Pakistanse stede wat wedstryde sal aanbied.

Buitelandse spanne het Pakistan jare lank gesystap nadat die besoekende Sri Lankaanse span in 2009 op hul spanbus deur gewapende terroriste aangeval is. Agt mense is dood en verskeie Sri Lankaanse spelers beseer.

Maar met veiligheidsituasie wat in die grootste deel van die land verbeter, het internasionale krieket in 2020 na Pakistan teruggekeer.

Slegs die agt toplande op die IKR se eendagranglys (tydens die keuringstydperk) het vir die Kampioenetrofee-toernooi gekwalifiseer.

Indië, Pakistan, Nieu-Seeland en Bangladesj is in Groep A geloot, terwyl Australië, Engeland, Afganistan en Suid-Afrika in Groep B is.

Twee spanne uit elke groep kwalifiseer vir die halfeindstryde in Dubai en Lahore.

Pakistan is die verdedigende kampioen nadat hy Indië in die eindstryd in 2017 op The Oval in Londen geklop het.

Indië, wat dié toernooi al twee keer gewen het, sal moeilik gestuit word vanjaar, maar daar sal wel baie druk op dié land se superster-kolwer Virat Kohli wees.

Kohli se spel die laaste ruk is benede peil. Dit kan die 36-jarige se swanesang op die internasionale verhoog wees, met Rohit Sharma, Indië se kaptein, wat waarskynlik ook ná die toernooi uit eendagkrieket sal tree.

Die gewese Indiese ster Sunil Gavaskar sê die Indiërs is die gunstelinge omdat daar geen wesenlike swak plekke in hul mondering is nie en hulle in alle afdelings van die spel oor wedstrydwenners beskik.

"Die ander spanne, na my mening, om dop te hou, is die verdedigende kampioen, Pakistan, Nieu-Seeland en Suid-Afrika."

Indië sal egter hul briljante blitsbouler Jasprit Bumrah erg mis.

Australië het Indië in 2023 in sy agterplaas in die eindstryd van die WB-toernooi geklop, maar moet sonder verskeie sleutelspelers in Pakistan oor die weg kom.

Sy ervare snelboulers Pat Cummins, Mitchell Starc en Josh Hazlewood kon nie een vir die toernooi oorweeg word nie, terwyl die veelsydige staatmaker Marcus Stoinis ook onlangs sy uittrede uit eendagkrieket aangekondig het. Nog 'n veelsydige ster, Mitchell Marsh, is beseer en dít alles laat Australië skielik baie kwesbaar lyk.

Sri Lanka, wat nie vir die toernooi kon kwalifiseer nie, het die Aussies verlede week oortuigend met 2-0 in 'n reeks geklop.

Pakistan begin Woensdag die negende weergawe van die Kampioenetrofee-toernooi met 'n wedstryd teen Nieu-Seeland in Karatsji.

Die mede-gasheer is onvoorspelbaar, soos hy in 2017 ook gewys het. Hy het daardie jaar die openingswedstryd teen Indië met 124 lopies verloor voordat hy die eindstryd teen sy buurland met 180 lopies gewen het.

Dis moeilik om te voorspel hoe Engeland gaan vaar. Hy beskik oor 'n hele paar sterre, maar het sleg slae gekry in 'n pas afgelope reeks teen Indië.

Afganistan, wat oor 'n rits puik draaiers beskik, onder wie sy kaptein, Rashid Khan, kan 'n gevaarlike buiteperd wees.

Hy het Engeland, Pakistan en Sri Lanka in 2023 se WB-toernooi geskok en verlede jaar die halfeindronde van die T20-Wêreldbeker-toernooi gehaal. - AFP

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM