Krieket

Oud-Engelse snelbouler Anderson tot ridder geslaan

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
James Anderson stuur verlede jaar ’n aflewering af teen die Wes-Indiese Eilande op Lord’s in Londen. Dit was sy laaste toets. Foto: Getty Images
James Anderson stuur verlede jaar ’n aflewering af teen die Wes-Indiese Eilande op Lord’s in Londen. Dit was sy laaste toets. Foto: Getty Images

Die voormalige Engelse snelbouler James Anderson is tot ridder geslaan in die voormalige Britse premier Rishi Sunak se bedankings-erelys.

Anderson het in Julie 2024 sy uittrede uit toetskrieket aangekondig nadat hy 704 paaltjies in 188 toetse laat kantel het. Dit is by verre die meeste paaltjies deur 'n snelbouler in die langste formaat van die spel.

Die 42-jarige Anderson speel steeds graafskapkrieket vir Lancashire, maar hy het weens 'n kuitbesering die begin van die seisoen misgeloop.

"Dit is 'n welverdiende eer vir 'n Engelse legende, iemand wat baie vir die sport gedoen het," sê Richard Thompson, voorsitter van die Engeland en Walliese Krieketraad.

"Sy vaardigheid, deursettingsvermoë en sportmanskap het miljoene krieketspelers en ondersteuners geïnspireer, nie net in Engeland nie, maar oor die wêreld heen."

Die bedankings-erelys is 'n tradisie wat uittredende premiers die geleentheid gee om mense te benoem vir eerbewyse.

Slegs twee draaibalboulers, Muthiah Muralidaran (Sri Lanka) en wyle Shane Warne (Australië), het meer paaltjies as Anderson in toetskrieket laat kantel. Muralidaran het 800 paaltjies in 133 toetse geneem, met Warne wat 708 slagoffers in 145 toetse gehad het.

James Anderson in aksie in 2003 op Lord's in sy eerste toets. Hier vier hy die paaltjie van die Zimbabwiër Travis Friend. Foto: Getty Images
James Anderson in aksie in 2003 op Lord's in sy eerste toets. Hier vier hy die paaltjie van die Zimbabwiër Travis Friend. Foto: Getty Images

Anderson het in 2002 sy buiging in eendagkrieket vir Engeland gemaak, en in Mei 2003 teen Zimbabwe op Lord's in sy eerste toets gespeel. Hy het in 194 eendagwedstryde gespeel en die Engelse ook in 19 T20-wedstryde verteenwoordig.

Die Indiese maestro Sachin Tendulkar (200 toetse), wat sy land tussen 1989 en 2013 verteenwoordig het, is die enigste speler wat in meer toetse as Anderson gespeel het.

• Sunak (44) was tussen 25 Oktober 2022 en 5 Julie 2024 die Britse premier. Keir Starmer is tans die Britse premier. - AFP, Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM