Dané van Niekerk is steeds die Protea-vrouespan se kaptein, sê Hilton Moreeng, die span se afrigter.
Van Niekerk het nog bitter min krieket gespeel sedert sy haar enkel in November verlede jaar in 'n fratsongeluk gebreek het.
Moreeng sê egter die veelsydige Van Niekerk is besig om weer behoorlik fiks te word en word steeds as die span se leier beskou.
"Ons werk daaraan om haar so fiks moontlik te kry. Sy volg 'n program en is deurgaans met ons mediese span in kontak," sê Moreeng.
"Ons wil haar nie té vinnig terugbring en dan kry sy weer seer nie."
Van Niekerk het in Augustus en September 'n paar wedstryde vir die Oval Invincibles in die Hundred-reeks in Brittanje gespeel.
In haar afwesigheid het Suné Luus die Proteas aangevoer. Luus sê sy weet sy het net vir Van Niekerk ingestaan en het nie 'n probleem daarmee as Van Niekerk weer die kapteinskap oorneem nie.
Hoewel Moreeng Van Niekerk ten volle ondersteun, het hy egter ook laat deurskemer dat hy nie sal huiwer om nuwelinge in sy span vir volgende jaar se T20-Wêreldbeker-toernooi te kies nie.

Die WB-toernooi word van 10 tot 26 Februarie in Suid-Afrika aangebied.
Die Proteas hou tans in Gqeberha 'n oefenkamp. Dit het verlede Donderdag begin en eindig Woensdag.
"Ek is ernstig daaroor dat iemand nog haar hand vir die uitsoekgroep kan opsteek," sê Moreeng.
"Dis waarom ons hierdie kamp hou en waarom ons 'n klompie o.19-spelers ook genooi het.
"In T20-krieket gebeur dinge vinnig en as ek sien 'n nuweling kan regtig 'n verskil maak, sal ek haar 'n kans gee."
Volgens die breier is sulke oefenkampe ook belangrik met die oog op die toekoms.
"Van ons senior spelers se loopbane staan einde se kant toe en ons wil vroegtydig hul opvolgers identifiseer," sê hy.
Moreeng sê daar word by die kamp nie net baie krieket gespeel nie, maar ook aandag aan spelers se vaardighede gegee.
"Ons het vir Andrew Puttick wat help met die kolfwerk, vir Kruger van Wyk wat kyk na die paaltjiewagters en die veldwerk en Thandi Tshabalala wat die draaiers help," sê hy.
'n Paar van die span se sterre - Marizanne Kapp, Laura Wolvaardt, Shabnim Ismail, Cloé Tryon en Mignon du Preez - is tans in Australië, waar hulle in die Big Bash-reeks speel.
"Dis vir ons 'n bonus. Hulle speel mededingende krieket in die formaat waarin die WB-reeks gespeel gaan word. Ek is baie bly dat hulle die kans kry," sê Moreeng.



















