Die gevaarligte flikker vir die Protea-vrouekrieketspan net dae voordat die span sy aanslag op die titel by die Statebondspele begin.
Suid-Afrika het Maandag in Derby die derde en laaste T20-wedstryd teen Engeland met 38 lopies verloor. Die Engelse het die reeks op 'n drafstap met 3-0 gewen.
Die Proteas se eerste wedstryd by die Statebondspele, wat in die T20-formaat beslis word, is Saterdag teen Nieu-Seeland in Birmingham.
Engeland het Maandag die loot gewen, besluit om eerste te kolf en 176/6 in 20 boulbeurte aangeteken. Suid-Afrika het geantwoord met 138/6 in 20 boulbeurte.
Tazmin Brits (59, 57 balle), wat op nr. 3 gaan kolf het, was die Proteas se beste kolwer.
Die Engelse was vroeg in hul kolfbeurt effens in die knyp. Nonkululeko Mlaba, draaibalbouler van die Proteas, het met die eerste bal van die wedstryd toegeslaan deur van Sophia Dunkley ontslae te raak. Laura Wolvaardt het die vangskoot op punt benut.
Dit het die tuisspan egter nie laat ontspoor nie. Sophie Ecclestone (33*, 12 b; 4x4, 2x6) en Danni Wyatt (30, 25 b) het die beste vir Engeland met die kolf gevaar. Veral Ecclestone se kolfbeurt het die Suid-Afrikaners skade berokken. Sy het 26 lopies van die laaste boulbeurt van Engeland se kolfbeurt van Masabata Klaas se boulwerk gemoker.

Mlaba (3/22) was die Proteas se beste bouler. Helaas het die Suid-Afrikaners hulle 'n paar keer aan vrotsige veldwerk skuldig gemaak.
Een voorbeeld daarvan was toe Klaas met die laaste bal van die negende boulbeurt vir Wyatt, wat toe op 28 was, laat val het van Delmi Tucker se boulwerk.
Suné Luus, die Proteas se kaptein, en die snelbouler Shabnim Ismail het die kragmeting misgeloop. Luus is ongesteld, met Ismail wat las van 'n rugbesering het.
Chloé Tryon het die Suid-Afrikaners aangevoer.
• Telkaart





















