Met Lizelle Lee aan die spits het Protea-vrouekrieketspan die derde eendagwedstryd teen die Wes-Indiese Eilande Maandag gewen en boonop die reeks beklink.

Suid-Afrika het met agt paaltjies in Antigua gewen en loop nou met 3-0 voor in die reeks van vyf wedstryde. Dit is die eerste keer dat die Protea-vroue daarin kan slaag om 'n eendagreeks teen Windies in hul agterplaas te wen.
Die tuisspan het eerste gekolf en kon net 157/10 in 48.4 boulbeurte bymekaarskraap, waarna die Proteas (158/2) die wenlopies in die 37ste boulbeurt aangeteken het.
Lee was haar span se groot uitblinker met die kolf. Sy het 78 onoorwonne lopies van 120 balle aangeteken en 'n vennootskap van 122 lopies om die eerste paaltjie saam met Laura Wolvaardt gehad.
Wolvaardt het 53 lopies van 68 balle aangeteken.
Die Suid-Afrikaanse boulers, veral die snelbouler Shabnim Ismail, verdien 'n klop op die skouer. Ismail het 3/31 in tien boulbeurte platgetrek en is goed ondersteun deur Ayabonga Khaka (2/22 in 9.4) en Suné Luus (2/25 in sewe).

Ismail het die media ná die wedstryd op 'n nuuskonferensie te woord gestaan.
"Dit is altyd lekker om by te dra wanneer die span wen. Dit was nie maklike toestande vir ons om hier te boul nie. Krediet gaan aan die boulers," sê Ismail.
"Dan weer eens vir die kolwers om uit te gaan en so 'n kliniese vertoning te lewer. Lizelle Lee en Laura Wolvaardt het ons selfvertroue gegee.
"Die manier waarop hulle te werk gaan, wys aan die wêreld dat ons erns maak met die toer. Dit is altyd lekker om op die voorvoet te kom en 'n reekssege te beklink."
Ismail het onder andere verwys na die "selfvertroue" wat sy en haar spanmaats met die sege kry. Iets wat inderdaad die geval is.
Hoewel dit nog 'n paar maande is voordat die Wêreldbeker (WB)-toernooi, in Maart in Nieu-Seeland begin, is dit duidelik dat die Proteas een van die vroeë gunstelinge is om daar te wen.
Die Suid-Afrikaners is 'n gevestigde span met sterre soos Ismail, Lee, Wolvaardt en ook Dané van Niekerk en Marizanne Kapp in sy geledere.
Indien die Proteas kan voortbou op die vertoning, is daar geen rede hoekom hulle nie die WB omhoog kan hou nie.















