Protea-vroue

Troosprys vir jong Proteas ná eindstryd-pyn

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kayla Reyneke, kaptein van die nasionale o. 19-vrouespan, in aksie. Sy het 11 paaltjies in die toernooi in Maleisië laat kantel. Foto: Gallo Images
Kayla Reyneke, kaptein van die nasionale o. 19-vrouespan, in aksie. Sy het 11 paaltjies in die toernooi in Maleisië laat kantel. Foto: Gallo Images

Die jong Proteas het Dinsdag 'n lekker troosprys gekry ná hul teleurstelling in die eindstryd van die pas afgelope T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) vir o. 19-vroue.

Drie Suid-Afrikaners het die Span van die Toernooi gehaal.

Boonop is Kayla Reyneke, kaptein van die nasionale o. 19-span, as aanvoerder van dié uitsoekspan aangewys. Jemma Botha (aanvangskolwer) is ook by die 11-tal ingesluit, met die naatbouler Nthabiseng Nini, wat as 12de speler aangewys is.

Die Suid-Afrikaners se deelname aan die T20-WB in Maleisië het Sondag op 'n laagtepunt geëindig toe hulle in die eindstryd in Kuala Lumpur met nege paaltjies teen Indië verloor het.

Die jong Proteas was voor dié nederlaag nog onoorwonne en het beïndruk met hul spel in Maleisië.

Jemma Botha, aanvangskolwer van die nasionale o. 19-vrouespan, lê Sondag die lang steel in teen Indië in die eindstryd van die T20-Wêreldbeker-toernooi. Foto: Gallo Images
Jemma Botha, aanvangskolwer van die nasionale o. 19-vrouespan, lê Sondag die lang steel in teen Indië in die eindstryd van die T20-Wêreldbeker-toernooi. Foto: Gallo Images

Die 19-jarige Reyneke, 'n veelsydige speler, het 11 paaltjies as draaibalbouler in die toernooi laat kantel. Haar beste vertoning met die bal was teen Ierland in die Superses-fase, toe sy drie paaltjies in 1.4 boulbeurte laat kantel en net twee lopies afgestaan het.

Botha (17) het 105 lopies in ses kolfbeurte teen 'n treftempo van 123.52 aangeteken. In die halfeindstryd teen Australië het sy 37 lopies van slegs 24 balle (5x4, 2x6) gemoker.

Nini (19) het ses paaltjies in die toernooi laat kantel. In 'n groepwedstryd teen Samoa het sy drie paaltjies in twee boulbeurte laat kantel en slegs vier lopies afgestaan.

Die naatbouler Nthabiseng Nini, wat ses paaltjies in Maleisië laat kantel het. Foto: Gallo Images
Die naatbouler Nthabiseng Nini, wat ses paaltjies in Maleisië laat kantel het. Foto: Gallo Images

Dinesha Devnarain, afrigter van die nasionale o. 19-span, sê die span dien as 'n pyplyn vir spelers om in die toekoms vir die senior Proteas te speel.

Die nasionale o. 19-vrouespan het Dinsdag in Suid-Afrika aangeland ná hul deelname aan die T20-WB.

"Omdat die o. 19's mededingende internasionale krieket speel, versterk dit die basis van die senior Protea-span. Die mededinging word (moeiliker en die vlak van ondersteuning (wat spelers kry) verbeter," sê Devnarain.

Dié boorling van Durban het heelwat ervaring van internasionale krieket op topvlak. Sy het Suid-Afrika tussen 2008 en 2016 in 22 T20- en 29 eendagwedstryde verteenwoordig. Sy het die Proteas ook in vyf eendag- en twee T20-kragmetings aangevoer.

Dinesha Devnarain, afrigter van die nasionale o. 19-vrouekrieketspan. Foto: Getty Images
Dinesha Devnarain, afrigter van die nasionale o. 19-vrouekrieketspan. Foto: Getty Images

Devnarain sê die spelers wat die o. 19-span oorsee verteenwoordig het, beskik oor die potensiaal om vir die senior Proteas diens te doen. Sy wys daarop dat dit veeleisend is om op topvlak te speel, en dat spelers bereid moet wees om die harde werk in te sit. Wie die spelers se mentors moet wees, is ook soms moeilik om uit te pluis.

"Om op daardie vlak (senior vlak) te slaag, verg baie toewyding, dissipline, harde werk, opofferings en die vermoë om eerlik met jouself te wees. Die spelers het (in die T20-WB) 'n voorsmakie gekry van wat dit behels," sê Devnarain.

"Waar ons nou is, dink ek almal beskik oor die potensiaal om vir die (senior) Proteas te speel."

SPAN VAN DIE TOERNOOI:

Gongadi Trisha (Indië), Jemma Botha (Suid-Afrika), Davina Perrin (Engeland), Kamalini Gunalan (Indië), Caoimhe Bray (Australië), Puja Mahato (Nepal), Kayla Reyneke (Suid-Afrika, k), Katie Jones (Engeland, paaltjiewagter), Aayushi Shukla (Indië), Chamodi Praboda (Sri Lanka), Vaishnavi Sharma (Indië). 12de speler: Nthabiseng Nini (Suid-Afrika).

- marnus.kok@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM