Nie eens 'n skitterende boulvertoning deur Ayabonga Khaka was genoeg om die Protea-vrouekrieketspan Maandag van 'n oorwinning oor die Wes-Indiese Eilande te verseker nie.
Die Windies het die tweede eendagwedstryd tussen die twee spanne met 'n superboulbeurt op die Wanderers in Johannesburg gewen.
Die besoekers het 25 lopies in hul superbeurt aangeteken, waarna die Suid-Afrikaners net 17/1 in hul superbeurt aangeteken het. Die superboulbeurt was nodig omdat die telling tussen die twee spanne gelyk was.
Met die eerste kragmeting wat afgelas is, loop die besoekers nou met 1-0 in die reeks van vier wedstryde voor.
Weens reën het Maandag se wedstryd laat begin en dit is na 41 boulbeurte per span verminder. Die Proteas was egter almal terug in die paviljoen vir 160 in 40.4 boulbeurte.
Die besoekers het 160/10 in 37.4 boulbeurte aangeteken.
Die 29-jarige Khaka, 'n naatbouler, het 5/26 in agt boulbeurte platgetrek. Dit is die eerste keer in haar internasionale loopbaan, wat in 2012 begin het, dat sy vyf paaltjies in 'n wedstryd plattrek.
Khaka is goed bygestaan deur Masabata Klaas (2/42) en Suné Luus (2//25).

Klaas het vroeg toegeslaan deur Rashada Williams (1) se paaltjie in haar eerste boulbeurt plat te trek.
Die belangrike paaltjie van die gevaarlike Deandra Dottin (37, 31 b) is deur Khaka geneem.
Hoewel die draaier Nonkululeko Mlaba nie 'n paaltjie kon plattrek nie, het sy die Windie-kolwers 'n paar keer uitoorlê.
Was dit nie vir Luus (46, 52 balle; 5x4, 1x6) nie, sou die Proteas 'n baie laer telling in hul kolfbeurt aangeteken het. Een van die redes dat die Proteas verloor het, is omdat sy te min ondersteuning van haar spanmaats gekry het.
Laura Wolvaardt (25, 49 b) en Tazmin Brits (25, 55 b) het 53 lopies om die eerste paaltjie aangeteken voordat Wolvaardt haar paaltjie verloor het.
Daarna het die Suid-Afrikaners paaltjies met reëlmaat geval. Die enigste ander Proteas wat dubbelsyfers met die kolf kon behaal, is Chloe Tryon (18, 21 b) en Sinalo Jafta (14, 16 b).
Dit is duidelik dat die Proteas, wat bekend is vir hul gedugte kolflys, in die afwesigheid van die beseerde Dané van Niekerk en Lizelle Lee effens stomp in dié afdeling van hul spel is.
Daarby was Marizanne Kapp ook nog nie teen die Windies in aksie nie. Sy is naby daaraan om weer oorweeg te word nadat sy las van haar skouer gehad het.
Maar die Proteas het duidelik veggees getoon. Toe hulle slegs 160 in hul kolfbeurt aangeteken het, was die algemene verwagting dat die Windies gemaklik sou wen.
• Die derde eendagwedstryd word Donderdag, ook in Johannesburg, beslis.





















