Die toetslengtes wat die meedoënlose Suid-Afrikaanse boulaanval gehandhaaf het, was die mees verblydende aspek van die Proteas se eendag-reekssege oor Ierland. Tog is dit byna niksseggend in die aanloop tot die reeks om die Kampioenetrofee, sê kenners.
Die Proteas het groot seges van 139 lopies en 174 teen Ierland in Abu Dhabi behaal om 'n onaanvegbare reeksvoorsprong van 2-0 op te bou.
Tristan Stubbs was die groot held met die kolf met bydraes van 79 en 'n onoorwonne 112.
Die snelbouler Lizaad Williams was die laksman, met 4/32 en 3/36.
"Waar Suid-Afrika se naatboulers in die reeks teen Afganistan te kort en wyd geboul het, het hulle teen Ierland toetslengtes gehandhaaf en die bopunt van die wegpen probeer tref," sê die oud-Protea Shaun Pollock.
"Hulle was bestendig, en daarby het hulle ook met inswaaiers talle paaltjies geneem."
Vernon Philander, oud-Protea-bouler, sê die naatboulers was klinies en het by hul planne gehou.
Williams het gister op 'n nuuskonferensie gesê die toestande in Abu Dhabi was soortgelyk aan wat jy in die Hoëveld aantref en dit was tot die voordeel van SA se aanval.
Jy kan nie te veel aflei uit die reekse teen Afganistan en Ierland nie.
"Die tyd wat ek vanjaar by die IPL was, was 'n openbaring. Ek het daar besef as jy nie hulp kry van die blad of deur die lug soos in Suid-Afrika nie, en jy net effens van jou merkie af is, gaan jy deurloop," het Williams gesê.
"Toe ek gehoor het ek het nie die 15-tal gehaal vir die T20-WB-toernooi nie, het ek maande lank in die buiteseisoen in Pretoria juis aan my akkuraatheid geskaaf."
Eric Simons, Suid-Afrika se boulafrigter in witbal-krieket, het die Protea-naatboulers se bestendigheid in die reeks teen Ierland en die volgehoue fokus daarop om die bopunt van die wegpen te tref, geloof.
"Jy kan nie te veel aflei uit die reekse teen Afganistan en Ierland nie. Ons is sonder Kagiso Rabada, Marco Jansen, Gerald Coetzee, Heinrich Klaasen en David Miller.
"Dit is die helfte van ons span," sê Simons.
"Ons het Quinton de Kock verloor en Ryan Rickelton het uitgeblink in die reeks. Maar as jy kyk na die span wat in 2023 die Wêreldbeker-halfeindronde gehaal het, dink ek Suid-Afrika is steeds op 'n goeie plek."
Die area waarin die Proteas voor die Kampioenetrofee moet verbeter, is hul spel teen draaiers, sê Simons.
"Die bal sal nie so baie draai in Pakistan in die toernooi om die Kampioenetrofee nie. Maar spanne sal die Proteas met draai teiken omdat hulle onder die indruk is dat ons kwesbaar teen draai is."
In daardie opsig kan spelers leer by Klaasen. Hy word "gevrees deur die meeste draaiers wêreldwyd", sê Simons.
Die ouddraaier Paul Harris sê die Proteas het die laaste tyd sonder nege van hul voorste spelers gespeel. Hulle moet nou daardie spelers begin speelkans gee voor die Kampioenetrofee.
• Die swaaibouler Nandré Burger is weens 'n laerugbesering uit die derde eendagwedstryd teen Ierland vandag in Abu Dhabi. En hy sal ook die komende toetsreeks teen Bangladesj (van 21 tot 25 Oktober en van 29 Oktober tot 2 November) misloop.
Sy plaasvervanger word vandeesweek verwag.





















