Proteas

Linde maak hart oop oor afjak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
George Linde is terug in die Protea-span.Foto: gallo
George Linde is terug in die Protea-span.Foto: gallo

Die selfvertwyfeling het jare lank aan hom gevreet nadat hy uit die Protea-span weggelaat is. Die gebrekkige kommunikasie oor die redes vir sy weglating, en toe later boonop 'n kniebesering ook, het die frustrasies laat ophoop.

Maar Maandag, terwyl hy in die gimnasium aan die sweet was, het Rob Walter hom in 'n stemboodskap ingelig dat hy weer vir die Proteas gekies is. 38 maande ná sy laaste verskyning.

"Ek was geskok, maar ook baie gelukkig. Ek het nie gedink ek sou weer gekies word vir Suid-Afrika nie," sê Linde aan Rapport.

Krieketliefhebbers sal nie te verbaas wees dat Linde se naam uitgelees is in die SA T20-groep van 15 vir die reeks teen Pakistan nie - en dit juis op sy 33ste verjaardag.

Linde het vanjaar in die T20-Uitdaagreeks vir die WP 171 lopies gemoker teen 'n gemiddeld van 42.75 en 'n treftempo van 178.12. As linksdraaier het hy nege keer toegeslaan teen 'n gemiddeld van 18.33.

"Toe ek destyds weggelaat is, was daar nie regtig kommunikasie nie," sê Linde.

"Die goedjies wat gesê is, het nie sin gemaak nie. Ek kon die krieketredes nie goed verstaan nie, soos dat my kolfwerk (in die T20-reeks teen die Wes-Indiese Eilande) nie goed was nie en my my plek gekos het."

Die linksdraaier van die Westelike Provinsie het in sy finale toets in 2021 5/64 teen Pakistan laat spat. In sy finale eendag-wedstryd teen Sri Lanka het hy in 10 beurte 2/32 platgetrek en in sy heel laaste T20-wedstryd het hy 2/21 teen Ierland geneem.

Ek wou dapper wees en my selfvertwyfeling vir myself gehou.

Sy weglating uit die T20-Wêreldbeker-span in 2021 het 'n reuse-impak op hom gehad, erken hy.

"Ek het myself getwyfel. Is ek nog goed genoeg? In die twee tot drie maande nadat ek weggelaat is, wou ek wegkom van krieket vir 'n tyd, maar ek was gekontrakteer by Kent vir twee seisoene. Ander tye het ek probeer om die kritici verkeerd te bewys, maar my fokus was verkeerd," sê Linde.

"Ek wou dapper wees en my selfvertwyfeling vir myself gehou. Het ek maar daaroor gesels. Toe het my lyf ingegee. Wanneer ek wel gespeel het, het my kniebesering erg gelol.

"In Oktober verlede jaar het ek kraakbeen in my knie beseer en 'n operasie ondergaan. Toe was die knieprobleme verby."

In die buiteseisoen vanjaar het Linde aan sy agent, Donovan Kretschmer, gesê hy wil twee tot drie maande geen krieket speel nie.

"Dis 'n tyd dat ek gebraai en gholf gespeel en baie tyd saam met my familie deurgebring het. Ek het nie aan krieket gedink nie."

Dit het Linde "gered".

"Ek was geestelik en liggaamlik vars toe ek terugkeer na die oefennette.

Ek en Qaasim (Adams, die kolfafrigter), het baie ‘onaangename' kolfsessies gehad. Hy het my dikwels gepeper met kortballe in die oefeninge. Ek het ook my repertoire van aanvallende houe verbeter - ek het nou twee meer grensopsies."

Die WP-boulafrigter, Justin Kemp, het hard met Linde gepraat. "Hy het gesê ek kan weer vir die Proteas speel en ek kan met my veelsydigheid waarde toevoeg tot Suid-Afrika. Hy het my ook gehelp om ontslae te raak van slegte gewoontes soos om in die afleweringsaksie skielik wyer uit te spring," sê Linde.

Adams en Kemp se werk het 'n rol gespeel in sy omwenteling. Linde het byvoorbeeld in die T20-reeks teen die Warriors 66 behaal van 31 balle, waaronder ses sesse.

In die uitspeelstryd teen die Noordwes-Dragons het hy 49 van 23 balle gepleister. In die 19de beurt was dit Marco Jansen wat dit moes ontgeld, met Linde wat 21 lopies van die Protea-links-swaaibouler gehamer het. En in die Dragons se beurt het Linde 3/15 geneem. Die WP was met 41 lopies baas.

"Ek dink nie ek sal iets verander as ek wel kans kry vir die Proteas teen Pakistan nie. Ek sal positief bly en 'n verskil probeer maak," sê hy.

  • Die SA T20-groep vir die Pakistanse reeks: Heinrich Klaasen (k), Ottneil Baartman, Matthew Breetzke, Donovan Ferreira, Reeza Hendricks, Patrick Kruger, George Linde, Kwena Maphaka, David Miller, Anrich Nortjé, Nqaba Peter, Ryan Rickelton, Tabraiz Shamsi, Andile Simelane, Rassie van der Dussen.

• Suid-Afrika pak Pakistan Dinsdag in die eerste T20-wedstryd op Kingsmead in Durban, Vrydag op SuperSport-park in Centurion in die tweede kragmeting, en Saterdag in die derde botsing op die Wanderers.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM