Suid-Afrika was geestelik aan die slaap agter die stuurwiel, en moet skerper wees in kritieke oomblikke om só die eendag-reeks op 'n hoogtepunt af te sluit, sê Ryan Rickelton, aanvangskolwer van die Proteas.
Gevra hoekom Suid-Afrika die eerste twee eendagwedstryde teen Pakistan verloor het, het Rickelton prontuit geantwoord: "Ons moes albei kragmetings gewen het. Ons wedstryd-bewustheid was slordig. Toe ons op ons skerpste moes wees, het ons onsself in die steek gelaat."
Rickelton sê Suid-Afrika moet nie die sneller te vroeg probeer trek met die kolf nie.
"Jy moet liewer 'n bietjie uitstel en stadig maar seker die momentum laat wegswaai van hulle om die groot slaners in posisie te kry. Dis wat Pakistan se kolwers so goed gedoen het."
Hyself was een van die sondaars. Die 28-jarige linkskolwer is vir 36 in die eerste wedstryd in die Paarl verwyder nadat die Proteas in die eerste 9.5 beurte 70 lopies om die eerste paaltjie behaal het, maar daarna vier paaltjies verloor het vir die toevoeging van net 18 lopies.
"Dis my trots dat ek 100-talle in witbal-krieket slaan. 30-talle, 40-talle en 50-talle wen nie eendag-wedstryde nie. 100-talle doen. En dis juis wat ek nie gedoen het nie.
"Ek het teen Ierland juis twee geleenthede gehad om 100-talle te behaal (Rickelton het 91 en 40 in die eerste twee eendag-kragmetings behaal), en het dit nie gedoen nie. Ek moet self met hoër intensiteit speel en skerp wees in kritieke situasies en nie op sagte wyse my paaltjie wegsmyt nie."
Rickelton was nie die enigste skuldige kolwer nie. Afgesien van Heinrich Klaasen, wat met beurte van 86 en 97 in die eerste twee kitswedstryde geskitter het, het die ander kolwers nie 20-talle en 30-talle omskep in grotes nie.
Vir Rickelton was dit in baie opsigte 'n goue jaar. Hy het 530 lopies behaal in die SA20 - en was die voorste lopiemaker in die kompetisie. Hy het ook sy debuut-toetshonderdtal aangeteken - 101 teen Sri Lanka op St. George-park.
"Die grootste rede hiervoor is dat ek in die SA20 my angstigheid en senuweeagtigheid verloor het," sê hy.
"Tegnies het ek een of twee verstellings gemaak wat my die afgelope jaar 'n beter speler gemaak het. Ek is nie so geboë as ek stelling inneem nie. Ek is meer regop, en my deurswaai is meer reguit, pleks van dwarsoor die lyn."
Rickelton sê die toetshonderdtal het baie van sy selfvertwyfeling laat verdwyn. "Twyfel leef in ons almal. Dit leef ook in my. Ek het gewonder of ek dit kan vermag, en of ek net 'n goeie wedstryd ‘praat'. Nou ná afloop van die toetshonderdtal, is my selfvertwyfeling nie meer so akuut nie."
- Vandag se derde eendagwedstryd teen Pakistan, die pienkdag-wedstryd, begin om 14:00 op die Wanderers.





















