Pasop, Proteas! Ons gaan nie net omgedop word nie.
Dit is die boodskap wat Bangladesj aan Suid-Afrika gestuur het met die Tiere se geskiedkundige eerste toetssege nóg oor Pakistan. Dié oorwinning was boonop in Rawalpindi in Pakistan, en sou as tydige wekroep vir Suid-Afrika dien voordat hulle in Oktober na Bangladesj reis vir 'n reeks van twee toetse.

"Bangladesj kan enige land ter wêreld klop danksy hul talent en flair," sê Russell Domingo, voormalige afrigter van Suid-Afrika en Bangladesj.
"Die een uitdaging wat hulle het, is bestendigheid. Dikwels veroorsaak brandpunte wat hulle weg van die veld het, dat hulle nie so konstant vertoon nie, en dan vasval."
Bangladesj moet nog die datums en die stadions vir die reeks in Oktober finaliseer. Daar word verwag dat dit in Dhaka en Chittagong sal plaasvind.
Net twee jaar gelede het die Proteas die Tiere in Suid-Afrika op 'n drafstap met 2-0 in die toetsreeks geklop toe Keshav Maharaj 16 paaltjies ingeoes het en Simon Harmer 13.
Die Tiere het egter in Rawalpindi vir 'n eersterangse verrassing gesorg deur Pakistan met 10 paaltjies te klop. Voor hierdie toets het Pakistan in 13 ontmoetings met die Tiere 12 keer gewen, en een het onbeslis geëindig.
Die senior kolwer Mushfiqur Rahim het die sege moontlik gemaak met 'n briljante 191 waarmee hy Bangladesj na 565 eerstebeurt-lopies geïnspireer het in antwoord op Pakistan se 448/6.
Shadman Ismail het as aanvangskolwer self geskitter deur 93 in bykans vyf en 'n halwe uur te behaal. En die veelsydige Mehidy Hasan Miraz het 77 geslaan.
Die een ding wat in Suid-Afrika se guns tel, is dat Bangladesj soms wisselvallig presteer.
Daarna het Miraz in die rol van wegbreekbouler 4/21 geneem. Die ervare linksdraaier Shakib Al Hasan het 3/44 laat spat.
Pakistan is uitgeknikker vir net 146 in sy tweede beurt. Die Tiere het na 30-0 geblits om die sege te verseël.
Allan Donald, 'n voormalige boulafrigter van die Tiere en ook voorheen 'n SA snelbouler, het gesê een van die redes vir die sege is dat Bangladesj se senior span, die akademie en die o.19-span deesdae beter belyn is met mekaar.
Daar is ook 'n beduidende verbetering in die gehalte van Bangladesj se snelboulers, wat 'n gevaar vir die Proteas kan inhou.
"Die swaaibouler Shoriful Islam is iemand wat taamlik haastig kan boul, hy is ses voet vier in die ou taal, en kry wip, maar nie teen Morné Morkel se spoed nie," sê Donald.
"Taskin Ahmed kan die bal na albei kante van die naat beweeg en het al teen 147 km/h geboul. En die jong Hasan Mahmud is een van hul beste swaaiboulers."
Ahmed het twee jaar gelede met sy 5/35 in die derde eendag-wedstryd Bangladesj tot 'n eendag-reekssege oor Suid-Afrika geboul.
Donald verwag egter dat Bangladesj net twee snelboulers sal inspan teen die Proteas in die reeks en in Dhaka drie draaiers sal gebruik.
Shakib (241 toetspaaltjies), Taijul Islam (195) en Miraz (169 paaltjies) sal op blaaie wat nommerpas is vir hul kunsvorm as stadige boulers, 'n groot bedreiging inhou vir die Proteas.
"Dit sal ook bloedig warm wees in Dhaka," sê Donald.
Daar kan verwag word dat Bangladesj hul laer kolflys sal laai met veelsydige spelers soos Shakib en Miraz.
"Shadman is 'n vegter wat vir baie ure kan kolf. En Mushfiqur het 'n ongelooflike werk-etiek as kolwer," sê Donald.
"Die een ding wat in Suid-Afrika se guns tel, is dat Bangladesj soms wisselvallig presteer omdat daar onrus of uitdagings van die veld is wat hul fokus kan aantas," sê Domingo.
Die Proteas en Bangladesj het mekaar al in 14 toetse gepak. Twee kragmetings het onbeslis geëindig. In die ander 12 toetse het die Suid-Afrikaners as oorwinnaars uit die stryd getree.




















