Indië, die wêreld se voorste krieketspan, het Donderdagmiddag in 'n dag van groot drama 'n beurtnederlaag teen die Proteas gely in die eerste toets op SuperSport-park in Centurion.
Die Indiërs, wat nog nooit 'n toetsreeks teen die Proteas in Suid-Afrika kon wen nie, het die eerste van die spanne se twee toetse met 'n beurt en 32 lopies verloor.
Net Virat Kohli (76), wat sy 30ste 50-tal in toetskrieket kon aanteken, het noemenswaardige teenstand gebied teen die verwoestende Proteas-boulaanval.
Dié aanval is Donderdag gelei deur die 29-jarige nuweling, Nandré Burger, wat 'n droomdebuut gehad en 4/33 geneem het om met sewe paaltjies in die wedstryd te eindig.
Die Proteas, wat voor dié toets in Maart laas toetskrieket gespeel het, het Donderdag 408/9 in hul eerste beurt aangeteken nadat hulle op 256/5 kom voortkolf het.
Dit was veral danksy die Speler van die Wedstryd, Dean Elgar, se bydrae van 185 lopies en 'n onoorwonne 84 lopies deur die veelsydige Marco Jansen.
Die Proteas het met hul vennootskap van 111 'n voorsprong van 163 lopies op die besoekers se eerstebeurttelling van 245 gehad.

Indië is kort voor 17:00 Donderdag almal uit toe Kohli skitterend op die grens deur Kagiso Rabada van Jansen se boulwerk gevang is.
Indië is in sy tweede beurt almal uitgehaal vir slegs 131.
Elgar, wat Donderdagoggend op 140 nie uit nie voortgekolf het, se 185 lopies is sy grootste telling in 15 toetse teen Indië.
Elgar, wat in sy 85 ste toets speel, het met 'n positiewe ingesteldheid vrylik gekolf en veral met houe aan sy wegkant uitstekend gevaar. Hy het 'n dubbele honderdtal verdien.
Die voormalige Proteas-kaptein het 287 balle getrotseer en 28 viere geslaan in 'n beurt wat deur verskeie kenners beskou word as die beste van sy lang toetsloopbaan van 11 jaar. Elgar tree ná die reeks teen Indië uit.
Elgar, wat sy eerste toetshonderdtal op sy tuisveld aangeteken het, is staande toegejuig toe hy van die veld af gestap het.
Dit was Jansen se hoogste telling van sy loopbaan en sy tweede 50-tal in 'n toets. Hy was op 84 gestrand nadat die mediese span besluit het om Temba Bavuma (dyspier) nie te laat kolf nie.
Jansen het sy kolfbeurt opgevolg met drie paaltjies - dié van Shubman Gill (26), Shreyas Iyer (6) en Kohli vir 'n ontleding van 3/36.
Indië se tweede beurt het op 'n rampspoedige wyse begin toe Rabada die wegpen van Rohit Sharma, die Indiese kaptein, ontwortel het. Sharma het 'n nulletjie aangeteken en die telling was 5/1.

Dit was die sewende keer in agt toetse tussen Suid-Afrika en Indië wat Sharma 'n Rabada-slagoffer was.
Die telling was 13/2 toe Burger sy vierde paaltjie van die toets ingepalm het deur Yashasvi Jaiswal (5) deur Kyle Verreynne, die Proteas-paaltjiewagter, laat vang het.
Kohli is met sy telling op agt in die glippe deur Wiaan Mulder (plaasvervanger) van Jansen se boulwerk laat val.
Burger was ook 'n keer ongelukkig toe 'n vangskoot van sy boulwerk verbrou is.
Hy het hom op 'n driekuns bevind toe hy van KL Rahul (4) en Ravichandran Ashwin (0) met agtereenvolgende aflewerings ontslae geraak het om die besoekers te laat steier.
Die tweede en laaste toets begin op 3 Januarie op Nuweland in Kaapstad.
• TELKAART





















