Kagiso Rabada is slaggereed om Indië van Dinsdag af in die eerste toets op SuperSport-park te pak.

Dr. Shuaib Manjra, Krieket Suid-Afrika (KSA) se mediese hoof, het gister aan Rapport bevestig Rabada het genoegsaam van sy hakskeenbesering herstel om die Indiërs aan te durf.
"Maar Lungi Ngidi (enkelbesering) sal vandag 'n fiksheidstoets ondergaan."
Rabada se beskikbaarheid is 'n groot hupstoot vir die toetsbreier, Shukri Conrad, wat reeds sonder Anrich Nortjé moet klaarkom. Nortjé herstel nog van 'n rugbesering.
Volgens kenners sal Rabada, wat reeds 280 paaltjies in 60 toetse geneem het, oorgehaal wees om blitsig te boul wanneer die toets begin.
Hy is 'n ware mongrel wat ingesteldheid betref.
"Ek beskou hom as 'n ‘lyn-bouler'. Hy is meedoënloos. Iemand soos Josh Hazlewood van Australië sal die kolwer as't ware versteen binne die kolfkampie hou met sy ongemaklike lengtes. Uiteindelik sal die kolwer net met sy arms speel terwyl sy bene geanker is binne die kolfkampie, en sal hy dit van die rand van die kolf na die glippe stuur. KG doen presies dieselfde met die kolwers," sê Allan Donald, een van die beste snelboulers van alle tye
"Maar KG is baie meer as dit. Sy ingesteldheid is verstommend. Hy laat die kolwer nie met rus nie, blaas nooit die aftog nie, gaan nooit weg nie. Hy sê vir die kolwer: ‘Vat my aan en ek sal jou planke toe stuur.' Hy is 'n ware mongrel wat ingesteldheid betref."
Donald sê toe hy toetskrieket gespeel het, het sy kaptein, Hansie Cronjé, van hom verwag om vier boulbeurte van hoë intensiteit en hoë oktaan af te stuur en die teenstanders se beste speler, soos Brian Lara, te teiken.
Rabada sal dieselfde taak in die reeks teen Indië hê, naamlik om Rohit Sharma en Virat Kohli in die visier te kry. "Verwag dat KG ses kilometer per uur vinniger sal boul wanneer Virat instap. Dis die soort bouler wat hy is. Omdat KG 'n bouler van wêreldgehalte is, is dit werklik moontlik dat hy in die volgende paar jaar by Dale Steyn se rekordtal van 439 paaltjies kan verbyskuif," sê Donald.
KG is uiters akkuraat en kan dieselfde aflewering weer en weer afstuur.
Nes Steyn, meen hy ook Rabada skakel oor na 'n hoër rat sodra hy sy stert in die lug kry.
Rabada se beste wedstrydontleding nog, 13/144, het juis op SuperSport-park gebeur.
Eric Simons, die Protea-witbalspan se boulafrigter, glo Rabada sal hoogs doeltreffend teen Indië wees.
Hy het Rabada onder hande geneem in die Wêreldbeker-toernooi, waarin die snelprins 13 paaltjies teen 'n gemiddeld van 28 gevat het.
"KG is uiters akkuraat en kan dieselfde aflewering weer en weer afstuur. Daarby is sy taktiese ontleding van individuele teenstanders merkwaardig goed," sê Simons.
"Daarby is hy deels onortodoks. Jy sien dit nie met die eerste opslag nie. Maar hy slaan die beenskutte baie harder as wat die kolwer vooraf vermoed het vanweë daardie effens onortodokse boul-aksie."





















