Proteas

Ryan steek by Hashim kers op

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ryan Rickelton in aksie in ’n vorige wedstryd vir Suid-Afrika. Foto: Gallo Images
Ryan Rickelton in aksie in ’n vorige wedstryd vir Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Dit was tot dusver 'n jaar van ongekende hoogtepunte vir Ryan Rickelton. Nou het die 28-jarige speler by 'n meester van die kolfkuns gaan aanklop om die een tekortkoming in sy internasionale CV, sy middelmatige toetsgemiddeld, uit te sorteer.

Rickelton is in die binnebaan om môre in Mirpur, Dhaka, in die SA span ingesluit te word in die plek van die beseerde Temba Bavuma in die eerste toets teen Bangladesj.

Rickelton het vanjaar die meeste lopies behaal in die SA20 - 530 van hulle teen 'n treftempo van 173.77 en 'n gemiddeld van 58.88.

Hy het ook sy beste eendag-telling nog aangeteken - 91 teen Ierland, en sy voorste T20-prestasie behaal - 76 - ook teen die Iere.

Sy afrigter by die Lions, Russell Domingo, 'n oud-Protea-breier, kan nie uitgepraat raak oor sy deugde nie.

"Hy is 'n bestendige presteerder, en 'n spesiale kolwer. Hy beskik oor die kwaliteite om te slaag in toetskrieket," sê Domingo.

"Sy werketiek is fenomenaal. Ryan kyk deurgaans na maniere om te verbeter. Hy stagneer nie. En een van sy grootste deugde is dat hy weet hoe om lopies te maak."

Dit het Rickelton gewys deur in 60 eersterangse wedstryde 4 429 lopies te behaal teen 'n gemiddeld van 49.76.

Hoëveldse kolwers is tradisioneel goed tuis en veral teen die spoedvrate.

Rickelton het egter ook weg van die huis geskitter. Soos in 2022, toe hy vir Northampton­shire in vier wedstryde twee honderdtalle en vier vyftigtalle bygedra het in die Engelse graafskapreeks.

Die Lions-linkskolwer het ook sy veerkragtigheid bewys wanneer daar terugslae en teenslae was.

In 2022-'23 het die nasionale keurders verseg om hom te kies vir die toer na Australië omdat hy 'n enkelbesering gehad het wat dalk 'n operasie sou benodig.

Dit gaan ten diepste oor hoe om jou beurt te bou.

Ondanks die feit dat Rickelton en die Lions-breintrust volgehou het sy enkelbesering is nie ernstig nie, het die keurders hom oor die hoof gesien. Hy het tuis vir die Lions binne drie weke drie honderdtalle geslaan en die SA bestuur het met pap op die gesig gesit.

Maar op toetsvlak het Rickelton gesukkel, en in vyf verskynings het hy nog net 184 lopies aangeteken.

Die afgelope week het hy egter 'n lang tyd deurgebring saam met Hashim Amla, die Suid-Afrikaanse meesterkolwer van weleer. Dit was om te probeer verseker dat hy by drie syfers sal uitkom as hy dalk speelkans in die eerste toets kry.

"Hashim is instrumenteel in die Lions se welslae as kolfafrigter en hy was 'n ongelooflike speler. Hy het die kennis en insae om ons by te staan," sê Rickelton.

"Ek het met hom gepraat oor die basiese aspekte van die spel, oor die tempo wat vereis word en oor verskillende opsies in verskillende fases van 'n kolfbeurt," sê Rickelton.

"Dit gaan ten diepste oor hoe om jou beurt te bou," sê Rickelton.

Amla was in sy era in toetskrieket 'n lopiemasjien, soos sy 311 op die Oval teen Engeland en 253 teen Indië in Indië bewys het.

Dit is tot Rickelton se voordeel dat hy in sy debuuttoets, in 2022, juis teen Bangladesj gespeel het. In daardie toets het hy 'n bruikbare onoorwonne 39 van 161 balle behaal op 'n Kingsmead-blad wat skerp gedraai het.

"Ek is bly dat ek ten minste nie die reeks teen hulle in Dhaka ‘blind' betree nie. Ek het al teen Bangladesj se draaiers gespeel.

"Die feit dat ek die afgelope maand vyftigtalle behaal het in internasionale eendagkrieket en internasionale T20-krieket, sal my selfvertroue gee.

"Dis ook 'n geval dat die juk nou van my skouers af is omdat ek nie voorheen internasionale vyftigtalle kon aanteken nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM