Nie net bring die eerste (hopelik van vele) SA20-liga 'n klomp geld na Krieket Suid-Afrika (KSA) se leë sakke nie, dis ook gestig met die doel om vir jong plaaslike spelers geleenthede te gee. Sekere van hulle het daardie geleenthede met albei hande gegryp. Luke Alfred kyk na vier jong Turke wat die oog getref het.

Evan Jones (Paarl Royals)
Jones is ietwat van 'n swerwer.
'n Seun van Tshwane wat by die Lions beland het ná 'n indrukwekkende tydperk by Noord-Kaap Krieket in Kimberley. In die SA20 beïndruk hy as 'n bouler en veelsydige speler by die Royals. Hy het reeds in sewe van die hul agt wedstryde gespeel. Met 12 paaltjies reeds onder sy belt, bevind Jones homself skielik in die geselskap van hoë-profiel name soos Roelof van der Merwe (14), Anrich Nortjé en Bjorn Fortuin, wat albei 13 paaltjies ingeoes het.
Met 'n beste van 4/32 teen die Durban Super Giants, het Jones Paarl se stadige blad tot die beste van sy vermoë benut. Nie net het hy een van die kompetisie se min leë boulbeurte geboul nie, hy het sake onvoorspelbaar gehou met stadiger aflewerings en snyballe.
Hy het ook 'n paar goeie vangskote benut en kan die bal oor Dutoitskloofpas moker terug in Kimberley se rigting as hy sou wou. Belangrike mense het nou van die lank en lenige meneer Jones begin kennis neem.
Grant Roelofsen (Mumbai Indians Cape Town)
MI Cape Town, met sy groot naam en selfs groter name, is sover een van die kompetisie se teleurstellings, maar Roelofsen het homself beslis nie in die voet geskiet deur in al sewe van sy span se wedstryde te speel nie.
Die oud-leerling van King Edward VII speel vir die Dolphins, en teken nou 50-talle aan teen van sy oud-spanmaats by die Super Giants en die Sunrisers Eastern Cape. Tans is hy 17de wat kolfgemiddeldes betref met 159 lopies teen 'n treftempo van 122.3.

Die beste van als, of hy nou voor of agter die paaltjies is, Roelofsen het 'n baie goeie houding. Dit kan nie maklik wees om in 'n kolforde te wees saam met die opwindende jongeling Dewald Brevis en die talentvolle Ryan Rickleton nie, maar Roelofsen het sy kanse met albei hande gegryp. Hy sal sy goeie ingesteldheid in die kompetisie se laaste wedstryde benodig, aangesien MI Cape Town al hul wedstryde op Nuweland voltooi het. Nou wag daar drie wegstryde.
Volgende speel MI Cape Town op Kingsmead, SuperSport-park en die Wanderers en die manne sal als wil doen om seker te maak hulle maak dit tot in een van die halfeindstryde. Tans sit die span in die vyfde plek op die punteleer.

Jordan Hermann (Sunrisers Eastern Cape)
Die voormalige kaptein van die Hoërskool Waterkloof het nog net in vier van sy franchise se wedstryde gespeel, maar hy het sy kanse goed aangegryp, met 43 lopies teen die Royals en 59 van 44 balle teen die Super Giants.
Met Jon-Jon Smuts, Aiden Markram and Tristan Stubbs almal voor hom in die tou, het Hermann 'n paar groot name in sy Sunrisers-span.
Die linkshandige Hermann het sover glad nie te onbehendig in hul geselskap gelyk nie. Hy's 'n intelligente, dapper krieketspeler en dié blootstelling sal hom net laat groei. Tans is hy in die 15de posisie wat kolfgemiddeldes betref (tussen Markram en Stubbs!) en hy sal beslis weer die aandag in die tweede helfte van die kompetisie trek.
Tot dusver is die Sunrisers een van die SA20 se verrassingspakkies. Adi Birrell is 'n slim afrigter wat sy manne goed deur hul laaste twee wedstryde op Kingsmead en die Wanderers sal lei. Die Sunrisers wil natuurlik verseker hulle speel goed genoeg om een van die halfeindstryde te haal wat of op die Wanderers of Centurion gespeel sal word.

Eathan Bosch (Pretoria Capitals)
Dis beslis nie toevallig dat Bosch en sy Capitals-hulpafrigter, Dale Benkenstein, mekaar al ken sedert Bosch se dae by Hilton College nie.
Bosch is, nes Roelofsen, 'n Dolphin. Sy akkuraatheid is so goed dat hy gereeld gevra word om die Capitals se boulwerk te begin en dus in die gevaarlike kragspel te boul.
Sy boulsyfers is nou nie van die beste in die kompetisie nie, maar hy het sover 'n baie belangrike ondersteuningsrol gespeel vir die groter name, soos Nortjé, Adil Rashid en Wayne Parnell, rondom hom.
Anders as sy pa, Tertius Bosch, wat 'n ware snelbouler was, kan Bosch junior eerder as 'n medium-snelbouler beskryf word. Al het hy nou nie daardie pure spoed nie, vergoed hy daarvoor met sy beheer en vaardighede. En hy's nog jonk. Hy is slegs 24 jaar oud en sal dit nog vir baie jare kan doen.
"Hy's nogal 'n baie volwasse jongmens, nie waar nie?" laat hoor Jacques Faul, die Titans se hoof.
"Hy het ons sover baie beïndruk."




















