Rohit Sharma, kaptein van Indië, het ná sy span se verowering van die Kampioenetrofee gesê hy het geen planne om eendagkrieket te groet nie.
Indië, met Sharma aan die spits, het Nieu-Seeland Sondag in Dubai met vier paaltjies in die eindstryd geklop.
Sharma het verlede jaar ná die eindstryd van die T20-Wêreldbeker (WB)-toernooi in Barbados sy uittrede uit internasionale T20-wedstryde aangekondig.
Daar is wyd bespiegel dat dié veteraan-aanvangskolwer, wat volgende maand 38 word, dieselfde sou doen nadat Indië die Kiwi's Sondag geklop het.
Sharma is nie daaroor uitgevra nie, maar het aan die einde van sy mediakonferensie gesê hy het nie planne om nou ook wedstryde oor 50 beurte te laat staan nie.
"Nog een ding, ek gaan nie uit hierdie formaat tree nie, net om seker te maak dat geen gerugte vorentoe versprei word nie."
Dit was Indië se tweede titel in sy laaste drie Internasionale Krieketraad (IKR)-toernooie.
Indië het, soos in verlede jaar se T20-WB, die toernooi onoorwonne afgesluit.
Sharma het sy beste vir laaste gebêre deur 76 lopies in die eindstryd aan te teken.
Sharma het in 2019 se WB 'n rekord van vyf honderdtalle gemoker, maar Indië is toe in die halfeindronde uitgeskakel.
Hy sê die span se welslae verskaf hom meer genot as persoonlike mylpale.
"Ek het baie bygedra in 2019 se WB, maar ons het dit nie gewen nie. Dit was nie pret nie.
"Selfs as jy 30 of 40 lopies aanteken en die wedstryd wen, put jy meer tevredenheid en geluk daaruit."
Indië se Virat Kohli kon in die toernooi ook sy kritici se monde snoer.
Hy het 'n onoorwonne honderdtal teen hul aartsvyand, Pakistan, aangeteken.
Hy was ook tot hul redding met 84 in hul jaagtog in die halfeindstryd teen Australië.

Steve Smith, kaptein van die Aussies, het agterna gesê Kohli het waarskynlik nie sy gelyke in die spel as dit kom by die jaag van 'n teiken nie.
Smith (35), wat 73 in die halfeindstryd aangeteken het, het agterna sy uittrede uit eendagkrieket aangekondig.
Jos Buttler, kaptein van Engeland, het ook sy uittrede as kaptein van die span aangekondig nadat die Engelse nie die uitkloprondes gehaal het nie.
Die Engelse het al drie hul groepwedstryde teen Australië, Afganistan en Suid-Afrika verloor.
Hy het ná 'n derde agtereenvolgende mislukking in 'n IKR-toernooi besluit om die leisels oor te gee.
Van mislukkings gepraat, die gasheer, Pakistan, wat die heersende kampioen was, sal die toernooi ook nie vir lank wil onthou nie.
Pakistan het vir die eerste keer in drie dekades 'n groot toernooi aangebied. Die opwinding onder die krieketmal-nasie was hemelhoog, ondanks Indië se weiering om daar te kom speel en eerder al sy wedstryde in Dubai te speel.
Die opwinding was gou daarmee heen toe Pakistan ná nederlae in sy eerste twee groepwedstryde teen Nieu-Seeland en Indië uitgeboender is.
Sy derde wedstryd teen Bangladesj het boonop uitgereën.
Een teleurgestelde aanhanger het die toernooi beskryf as " 'n troue waar jy nie die bruid of bruidegom ken nie". - Reuters, AFP


















