Die snelbouler Alzarri Joseph het uitgeblink in die Wes-Indiese Eilande se reg-of-weg-stryd teen Zimbabwe Woensdag in Hobart.
Nadat die Windies vir Zimbabwe met 31 lopies geklop het, is Groep B van die kwalifiseringsronde vir die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) wawyd oop met elk van die vier spanne wat 'n wedstryd gewen en een verloor het.
Vrydag se laaste ronde kragmetings sal bepaal wie Groep B se wenner is, wat Maandag teen Suid-Afrika in die Super12-fase van die toernooi sal speel. Dié wedstryd sal ook in Hobart beslis word.
Joseph (4/16) het Zimbabwe met vurige boulwerk in toom gehou.
Die tweemalige kampioenspan het 153/7 in sy kolfbeurt aangeteken en Zimbabwe toe vir 122 uitgeboul.
Zimbabwe het belowend begin en 29 lopies van die eerste twee boulbeurte gemoker.
Joseph het toe twee paaltjies in sy eerste twee beurte gekry.
Obed McCoy het die derde paaltjie in die kragspel gekry, wat Zimbabwe op 55/3 ná ses beurte gelaat het.
Jason Holder (3/12) het Joseph ook goed bygestaan.
Die groot vis Sikandar Raza (14) is goedkoop uitgehaal, waarna Joseph in sy tweede boulskof weer twee paaltjies laat kantel het.
Raza (3/19) het die Windies vroeër benoud gehad.
Die Windies het vier paaltjies vir 11 lopies verloor, wat hulle eensklaps op 101/6 gelaat het.
Rovman Powell (28) en Akeal Hosein (23*) het toe gehelp dat hulle 'n mededingende totaal gekry het.
Die Windies speel Vrydag weer in Hobart teen Ierland en Zimbabwe speel teen Skotland. As die wedstryde uitreën, gaan Skotland en Zimbabwe deur danksy 'n beter netto lopietempo.
Groep B:
Puntestand en netto lopietempo (met een wedstryd oor):
Skotland 2, 0.759
Zimbabwe 2, 0
Windies 2, -0.275
Ierland 2, -0.468















