Menings

Dok Pool: Bennett sou trots wees op Duhan

Dis in die vroeë 1960's. Die noorde van Suidwes-Afrika (Namibië) is in die greep van 'n verwoestende droogte. Beeste vrek in hul duisende en oral word bidure vir reën gehou.

'n Klein groepie van ons sit in Otjiwarongo in die biduur. 'n Beesboer staan op en bid: "Here, terwyl ons diere daar buite vrek van die honger, sit slegs ons handjievol mense hier in die biduur soos 'n paar vlieë wat in die karringmelk geval het."

Duhan van der Merwe het sy vaardighede vertrou met sy skitterdrie teen Engeland op Twickenham.  Foto: Gallo Images
Duhan van der Merwe het sy vaardighede vertrou met sy skitterdrie teen Engeland op Twickenham. Foto: Gallo Images

Dis waaraan ek gedink het toe ek die klompie toeskouers in die Haaie se tuiswedstryd teen die Stormers dophou. Rugby in KwaZulu-Natal se versengende somerhitte en humiditeit? Diegene wat dit besluit het, moet hulle koppe laat lees, sou die studente gesê het. Alles om die boeke te laat klop en tog ly Saru volgens koerantberigte 'n verlies van oor die R200 miljoen.

Kom ons fokus liewer op twee ikone van agterspel, die Wallieser Phil Bennett en die Engelsman David Duckham, wat onderskeidelik in Junie 2022 en Januarie vanjaar oorlede is, en die redes vir hulle sukses.

Bennett, saam met Cliff Morgan en Barry John, tel onder die drie bestes uit die Walliese losskakelfabriek van die vorige eeu.

Ek het Bennett in 1993 tydens 'n besoek aan Wallis ontmoet. Die ene geesdrif kon hy nie uitgepraat raak oor die opwinding van losskakelspel nie.

Bennett se spel het gestraal van selfvertroue. Hy kon 'n situasie blitsig opsom en met vinnige voetwerk en handspoed uitbuit. Sy systappe van enige voet af het menige verdediger in die lug laat gryp en druksituasies omskep in driedruk-geleenthede vir homself of sy spanmaats. Hy was die Tiger Woods van agterspel. Vreesloos en vol vertroue in sy vermoë.

Bennett was gelukkig om agter klipharde voorspelers en saam met 'n skrumskakel soos Gareth Edwards te speel. Hy het nie omgegee hóé hy die bal kry nie. Solank hy dit net doen!

Die wyse waarop hy vir sy senters ruimte geskep het, was een van die hoofredes waarom sy Britse Leeu-senters John Dawes en Mike Gibson reguit kon aanval en vir vleuels soos Gerald Davies en Duckham die bal kon gee met slegs hul teenstanders om te klop.

Ons losskakels is omskep in verbeeldinglose, geprogrammeerde skopmasjiene.

'n Agterlyn bestaande uit Edwards, Bennett, Dawes, Gibson, Duckham, Gerald Davies en JPR Williams, op heelagter, was feitlik 'n simbiotiese eenheid wat die tafel gedek het vir vleuelspel soos dié van Duckham.

Duckham was vinnig en het met sy vernietigende systappe drieë maklik laat lyk. Sy drie vir die Barbarians teen die Springbokke in 1970 ná Gareth Edwards se steelkantbreek, was klassiek.

Vir deesdae se spelers mag Phil Bennett en David Duckham bloot name wees, maar hulle verteenwoordig 'n geslag spelers wat toeskouers na die velde laat stroom en uit hul stoele laat spring het. Rugby sonder hierdie klas speler is arm. En hedendaagse rugby?

Ek lees dié week een van die vereistes vir 'n internasionale losskakel is glo dat hy die bal in sy kanaal moet kan opvat. Nou ja, dis soos vandag se afrigters dink. Ek sou graag wou hoor wat Barry John en Phil Bennett daaroor te sê sou hê. Ek dink nie die Walliese taal het genoeg byvoeglike naamwoorde om te verwoord wat hulle daarvan sou dink nie!

Ons losskakels is omskep in verbeeldinglose, geprogrammeerde skopmasjiene, soos 'n rugbyvriend dit nou die dag uitgedruk het. Ons het ook losskakels soos Romain Ntamack, Marcus Smith en Beauden Barrett wat, met foute en al, jou regop kan laat sit wanneer hulle aan die bal raak. Los hulle net om te speel.

Verstaan my reg. Ek praat van losskakelspel in die algemeen en nie spesifieke wedstrydstrategieë nie. Afrigters is dit aan die jong spelers - en die spel - verskuldig om weer die opwinding in agterspel terug te bring.

In Skotland - en George - was daar groot opwinding oor die skitterdrie wat Duhan van der Merwe teen Engeland gedruk het. Die reaksie by die kommentators was so asof 'n speler in sy posisie nie veronderstel is om só aan te val nie. Het hulle verwag dat Van der Merwe, soos die gebruik is, die bal terug sou skop of in 'n teenstander vashardloop?

Duhan het die drie gedruk omdat hy vóór hom gekyk het en die swakplek in die verdediging gesien en aangeval het. Daarby het hy sy vaardighede vertrou.

David Duckham en Phil Bennett sou trots wees.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM