Nuwe teenstanders, winderige en nat toestande, volksvreemde kunsgrasvelde en talle twyfelagtige beslissings.
Dít was min of meer die sameloop van faktore wat die afgelope maand tot die Suid-Afrikaanse franchises se teleurstellende vertonings in die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) oorsee gelei het.
Die Bulle, Haaie, Stormers en Leeus het elk net een uit vier wedstryde gewen, maar die Kapenaars het darem ook teen Edinburgh die louere gedeel.
Op die keper beskou, is die onoortuigende vertonings van die Bulle, wat verreweg die keur onder die plaaslike spanne is sedert verlede jaar se Covid-19-hervatting, die grootste verrassing.
Die Curriebeker-kampioen het wel sy toer teen twee Ierse teenstanders begin.
Buiten 'n skitterende tweede helfte teen Cardiff, het Jake White se span egter nie aan die verwagtinge voldoen nie.
Daar is in die afgelope Curriebeker-kompetisie dikwels verwys na die Pretorianers se oorheersing in die vaste fasette, maar die span was die afgelope maand met tye veral in die skrums kwesbaar.

Die afbreekpunte was egter die Bulle se groot swak punt.
Geen ander span het in die eerste vier rondes meer besit as die Bulle afgestaan nie - 50 keer teenoor die 15 keer wat hulle die teenstander se besit afgeneem het.
Die Bulle het by die afbreekpunte ook kwaai onder die skeidsregters deurgeloop.
Dit is tot dusver nie 'n kompetisie met 'n rojale oes aan drieë nie, maar dit sal White pla dat die Bulle net vier keer in vier wedstryde kon gaan afrond het.
Die Stormers het hulle Vrydagaand in Newport met 'n goeie sege van 24-10 oor die Dragons as die voorste Suid-Afrikaanse span op die puntelys gevestig.
Hulle het in hul eerste vier wedstryde 515 duikslae uitgevoer, waarvan 56 deur die losvoorspeler Willie Engelbrecht.
Ná die nederlae teen Benetton en Munster het die Stormers hul toer heel skaflik geëindig en 'n speler soos die agtsteman Evan Roos het in die proses sy Bok-aandele laat styg.

Die toer van die Haaie sal grotendeels onthou word vir die losskakel Boeta Chamberlain se rol met sy drie skepdoele in die sege met 27-13 oor die Ospreys in die derde ronde.
Die Haaie sal, soos die Bulle, aandag gee aan hul dissipline, met albei spanne wat 35 keer gestraf is.
'n Oorwinning in die eerste ronde oor Zebre in Parma (38-26) was 'n goeie voorbode vir die Leeus, maar dit was die span se eerste en laaste sukses op toer.
Burger Odendaal-hulle is wel 'n moontlike sege oor die Glasgow Warriors ontneem weens 'n drie wat toegeken is, maar nooit 'n drie moes gewees het nie.
Die besoekers het dié wedstryd uiteindelik met 9-13 verloor.
Hoewel die Suid-Afrikaanse afrigters hulle verstaanbaar nie wou uitlaat oor die standaard van die skeidsregters wat hulle daar teëgekom het nie, was dit die grootste ontnugtering op toer.
• Die Stormers, Haaie en Bulle speel op 27 November tuis teen onderskeidelik Zebre, die Scarlets en Munster, terwyl die Leeus die volgende dag op Ellispark gasheer speel vir Cardiff.


















