Olimpiese Spele

Algeriese bokser wil ander inspireer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Volgens Imane Khelif neem sy deel aan die Olimpiese Spele om ander te inspireer. Foto: Getty Images
Volgens Imane Khelif neem sy deel aan die Olimpiese Spele om ander te inspireer. Foto: Getty Images

Die bokser wat die middelpunt van die geslags-omstredenheid op die Olimpiese Spele is, sê sy is daar om ander te inspireer.

Imane Khelif, wat in 'n arm dorpie sowat 300 km vanaf Algiers gebore is, moes baie struikelblokke oorkom in 'n konserwatiewe land waar vroue as nie geskik vir dié sportsoort beskou word.

Met haar gevlegte hare, kragtige liggaamsbou en 'n lengte van 1,79 m, was die tonge los op die Olimpiese Spele in Parys oor of dié 25-jarige geskik is om teen ander vroue te boks.

Khelif het 'n maand voor die Spele glimlaggend en met 'n sagte stem haar storie op die televisiekanaal Canal Algerie vertel.

Sy het gesê hul dorpie is sowat 10 km vanaf die stad Tiaret, wat sowat 280 km suidwes van die hoofstad, Algiers, geleë is. Sy het vanaf haar tuisdorp na Tiaret verhuis, en van daar na die hoofstad, en uiteindelik na die buiteland getrek.

Sy het vertel dat haar gesin dit nie te breed het nie en dat dit moeilik was om groot te word in 'n konserwatiewe dorpie in die Tiaret-provinsie wat in 'n halfwoestyn-gebied geleë is.

"Ek kom uit 'n konserwatiewe familie. Boks is nie 'n sport wat wyd deur vroue beoefen word nie, veral in Algerië. So dit was moeilik."

As reeds 'n sterk atleet het sy sokker gespeel met die seuns in haar dorpie Biban Mesbah, maar in die wedstryde het gevegte veroorsaak dat sy met haar vuiste moes terugveg. Hierdie gevegte het haar tot boks gelei.

In 'n onderhoud op die Unicef-webwerf het sy gesê sy het skrootmetaal verkoop en haar ma het tuisgemaakte koeskoes verkoop om vir haar buskaartjies na Tiaret te betaal.

Haar pa het aanvanklik nie haar besluit om te boks goedgekeur nie, maar hy het uiteindelik een van haar grootste aanhangers geword.

Die 49-jarige werklose sweiser het aan AFP gesê sy dogter is " 'n voorbeeld van die Algerynse vrou, 'n heldin van Algerië".

In 2022 het sy aan die Algerynse nuusagentskap APS gesê sy wou ophou boks "omdat my familie dit nie wou aanvaar nie as gevolg van hoe die samelewing my beskou het, asof ek iets verkeerd doen".

Maar "al hierdie hindernisse het my selfs sterker gemaak en dit het gedien as bykomende motivering om my drome te verwesenlik".

Sy het in die onderhoud gesê sy is vasberade en dit is haar droom om 'n goue medalje te wen.

"As ek wen, sal ma's en pa's besef hoe ver hul kinders kan gaan," het sy gesê. "Ek wil meisies en kinders in Algerië inspireer."

Nadat sy Angela Carini, haar Italiaanse teenstander, vandeesweek in Parys in minder as 'n minuut geklop het, is sy aan aanlyn teistering en rassisme blootgestel en verregse publikasies insinueer dat sy " 'n man is wat teen vroue veg".

Haar pa het ontken dat daar enige twyfel oor haar geslag kan wees en gesê sy is "'n sterk en moedige meisie".

Te midde van die woede oor Khelif en nog 'n vrouebokser, wat ook verlede jaar van wêreldkampioenskappe gediskwalifiseer is, het die IOK haar deelname gesteun.

Haar afrigter, Mohamed Chaoua, het gesê die omstredenhede motiveer haar net om voort te gaan. - AFP

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM