Die Skotse tennisspeler Andy Murray het sy loopbaan Sondagaand verleng toe hy en Dan Evans vyf wedstrydpunte afgeweer het in hul eerste wedstryd in die mansdubbelspel.
Die Britte Murray en Evans het Taro Daniel en Kei Nishikori van Japan in 'n taai kragmeting met 2-6, 7-6 (7/5), 11-9 geklop.
Die 37-jarige Murray het vroeër gesê dié Olimpiese Spele op Roland Garros in Parys sal sy swaneswang wees.
Murray het op die Spele in 2012 én 2016 die goue medalje gewen en het gesê hy sal ná dié Spele uittree.
Hy is die laaste paar jaar deur beserings geteister. - AFP





















