Olimpiese Spele

Top-breier genoop om deur draad te skree

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die afrigter van een van Suid-Afrika se voorste atlete moes deur 'n heining staan en aanwysings aan sy atleet skreeu, en is selfs deur die polisie by die Stade de France verwyder tydens vanjaar se Olimpiese Spele in Parys.

Dit alles in 'n poging om met sy atleet te kommunikeer en haar te probeer bystaan tydens die Spele verlede maand.

Suid-Afrika se Marioné Fourie in aksie in die halfeindronde van die 100 m-hekkies vir vroue op die Olimpiese Spele in Parys. Foto: Getty Images
Suid-Afrika se Marioné Fourie in aksie in die halfeindronde van die 100 m-hekkies vir vroue op die Olimpiese Spele in Parys. Foto: Getty Images

Jaun Strydom, die 100 m-hekkiesatleet Marione Fourie se afrigter, was só raadop dat hy hom tot dié uiterstes gewend het.

Hy is een van verskeie Suid-Afrikaanse privaat atletiekafrigters wat nie die nodige akkreditasie gehad het om hul atlete te help nie. Ander is Terseus Liebenberg, die spiesgooier Jo-Ané van Dyk se afrigter, Martin Marx, die hoogspringer Brian Raats se breier, en Lindi du Plessis, die 400 m-atleet Lythe Pillay se afrigter.

Dít ondanks die feit dat hulle lank voor die Olimpiese Spele reeds oor die akkreditasie by Atletiek Suid-Afrika (ASA) navraag gedoen en die regte prosesse probeer volg het.

"Met die heruitdun het ek besluit om deur die heining vir haar (Fourie) te skreeu toe sy opwarm langs die stadion. Dit was 'n missie. Die mense kyk vir jou of jy mal is, want jy praat met iemand wat hulle nie kan sien nie," sê Strydom aan Rapport.

"Ek skreeu van bo af, dan blaas die polisie die fluitjies dat ek moet padgee van die heining af. Dan staan ek so vyf meter weg en as hulle weg is, skreeu ek weer vir haar ek moet eers wag totdat die polisie verby is."

Volgens Strydom het sy atleet in die uitdunne gesukkel onder meer omdat hy nie by haar kon wees nie.

"Sy is 22 jaar oud, dit is haar eerste keer by Spele en sy is in die top-15 op die wêreldranglys. Sy was baie senuweeagtig.

Atletiek Suid-Afrika het 'opgeslip'.

"In opwarming vir die eerste ronde kon ek glad nie by haar uitkom nie. Sy was eenvoudig te naby aan die hekkies. Sy was opgewonde en die lengte van haar treë was nie reg nie."

'n Olimpiese beampte het hom ná sy geskreeu na die akkreditasie-kantoor gevat, waar hy ingelig is dat sy federasie die kantoor moet kontak en daar vir hom akkreditasie uitgereik kan word.

Hy het ASA-lede by die Spele gekontak en om hulp gevra, maar dit het op dowe ore geval.

"Hulle kon vir jou akkreditasie as 'n persoonlike afrigter gee. Hulle kon vir jou dagtoegang-akkreditasie of besoekersakkreditasie gee," sê hy.

Die probleme het begin toe ASA nie betyds privaat afrigters se inligting vir akkreditasie aan die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) deurgegee het om die sperdatums te haal nie.

"Atletiek Suid-Afrika het opgeslip," sê Leon Fleiser, hoofspanbestuurder van Suid-Afrika se Olimpiese en Paralimpiese span.

Hy sê Saskok kommunikeer die sperdatums met sy federasies, wat dan moet sorg dat al die afrigters se besonderhede deurgegee word.

"Ons vergader met al die federasies en sê die sperdatum vir akkreditasie is 27 Maart," sê hy.

"En daar kan 'n lang lys wees. Dit is almal wat die potensiaal het om na die Olimpiese Spele toe te gaan - afrigters, atlete, administratiewe personeel - en al die name kan deurgee word.

"Dikwels sal van die kleiner federasies vir ons net een afrigter gee. Dan sal ons vir hulle sê gee ons asseblief meer afrigters, vir ingeval iets dalk met daardie afrigter gebeur. Ons het dus vir almal gesê om hul afrigters se name in te stuur. ASA het nie al hul mense deurgegee nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM