Paralimpiese Spele

Al Hussein: Die vasberade vlugteling

Ibrahim Al Hussein het Woensdagoggend die eerste lid van die Paralimpiese vlugtelingespan geword wat aan vanjaar se Paralimpiese Spele deelgeneem het.

Die Siriër is ongelukkig gediskwalifiseer in die uitdunne van die 100 m-borsslag (SB8-klas), maar sal later vandeesweek weer in aksie wees in die 50 m-vryslag (S9).

Soos vele ander Paralimpiese atlete het Al Hussein 'n inspirerende lewensverhaal.

Die Siriese swemmer Ibrahim Al Hussein is een van die ses lede van die Paralimpiese vlugtelingespan. Foto: Getty Images
Die Siriese swemmer Ibrahim Al Hussein is een van die ses lede van die Paralimpiese vlugtelingespan. Foto: Getty Images

Die 33-jarige se pa was 'n swemafrigter en Al Hussein was van jongs af gek oor swem. Sy dae het bestaan uit skool, swem en judo-aandklasse en hy en sy 13 sibbes het 'n idilliese kinderlewe op die oewers van die Eufraatrivier gehad.

Maar alles het verander in Maart 2011 toe pro-demokrasie-protesoptogte in Sirië begin het en die Siriese regering oorlog teen sy eie burgers verklaar het. Al Hussein se ouers, broers en susters het gevlug, maar hy het in Deir al Zor agtergebly.

Daar het die noodlot toegeslaan toe 'n vriend wat by hom gekuier het op pad terug huis toe raak geskiet is.

"Hy het op die grond geval en om hulp geskree. Ek het geweet as ek gaan help, sou ek ook geskiet word, maar ek het gegaan, want ek sou myself nie kon vergewe as ek moes kyk hoe hy in die middel van die straat sterf nie," het Al Hussein aan die Olimpiese webblad gesê.

Ons het 'n spreekwoord in Arabies: Doen goeie dinge en gooi dit in die oseaan. Eendag sal dit terugkom na jou.

Al Hussein en drie ander mans het gehardloop om hul vriend te help - net vir 'n bom om reg langs hulle te ontplof. Hy het sy regteronderbeen in die ontploffing verloor en groot skade aan sy linkerenkel opgedoen. Daar was 'n groot tekort aan dokters en die man wat sy wonde skoongemaak het, was 'n tandarts.

Al Hussein het in 'n diep depressie weggesink, maar ná drie maande besluit om 'n veiliger hawe en beter mediese behandeling te gaan soek. Hy is oor die Eufraatrivier na Turkye en van daar na Griekeland, waar hy ná baie jare van soebat en smeek in 2015 'n plek gekry het waar hy weer kon begin swem: die swembad in Athene waar 2004 se Olimpiese en Paralimpiese Spele plaasgevind het.

"Om in daardie swembad te kon oefen ná my reis as 'n vlugteling, het my die motivering gegee om aan te hou, met die hoop dat ek eendag 'n positiewe boodskap aan die hele wêreld kon gee," sê hy.

Al Hussein se paadjie het inderdaad gelei na 'n plek waar hy ander kan inspireer. Hy is in 2016 in die Paralimpiese vlugtelingespan ingesluit vir die Spele in Rio de Janeiro en is vanjaar weer een van die ses atlete in die span.

En die vriend wat hy daardie dag probeer help het? Dié het oorleef en het vandag drie kinders.

"Ons het 'n spreekwoord in Arabies: Doen goeie dinge en gooi dit in die oseaan. Eendag sal dit terugkom na jou," sê Al Hussein.

Hy verpersoonlik nou dié spreekwoord.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM