Paralimpiese Spele

Ntando sit die kuns in kunsbene

Kleur en kuns vir 'n kampioen! Ntando Mahlangu Vrydag in Tokio met die Suid-Afrikaanse vlag nadat hy as Paralimpiese kampioen in die 200 m (T61) gekroon is.  Foto: Reuters
Kleur en kuns vir 'n kampioen! Ntando Mahlangu Vrydag in Tokio met die Suid-Afrikaanse vlag nadat hy as Paralimpiese kampioen in die 200 m (T61) gekroon is. Foto: Reuters

So sit jy mos die kuns in kunsbene!

Die 19-jarige Ntando Mahlangu het nie net Vrydag die oë laat rek met die vaart en gemak waarmee hy sy tweede goue medalje van vanjaar se Paralimpiese Spele in Tokio verower het nie, maar dit boonop gedoen met 'n paar kleurryke kunsbene wat presies gewys het waar sy aansporing lê.

"Dit is eg Suid-Afrikaanse Paralimpiese bene," het die tiener aan die media verduidelik nadat hy die 200 m vir T61-mans (met 'n dubbele been-amputasie bo die knieë) Vrydag met 'n tyd van 23.59 sekondes gewen het. "Dit het die drie kleure van die Afrikaans Hoër Seunskool op, asook die kleure van die Ndebele-stam en Span Suid-Afrika se Paralimpiese logo."

Mahlangu is vanjaar 'n matrikulant aan Affies, waar sy skoolmaats Vrydagmiddag jubelend in hul klaskamers gesit en kyk het hoe hy nog 'n tree nader aan Paralimpiese superster-status neem.

Die Pretoriase tiener het vooraf op Facebook gesê hy sou sy wedloop opdra aan "my Ndebele-stam, my vriende en familie, die reënboogmense van Suid-Afrika, my borge en my broers by Affies".

"Manne, laat daar lig wees. Hierdie een is vir julle," het hy in Afrikaans bygevoeg.

'n Nadere blik op Mahlangu (heel regs) se prostese.  Foto: Reuters
'n Nadere blik op Mahlangu (heel regs) se prostese. Foto: Reuters

Ná sy triomf het hy herhaal dat hy nie vir homself gehardloop het nie.

"Die goue medaljes is nie myne nie," het hy gesê. "Ek hoop ek kan baie positiwiteit by die huis skep, en ek hoop ek het die naweek vir mense op 'n goeie noot afgeskop.

"Ek weet al klaar wat aangaan by die huis. Ná die verspring (waarin hy verlede Saterdag goud gewen het) was mense baie opgewonde en het ek baie boodskappe gekry wat sê, ‘Bring die laaste een huis toe'. Mense wou net dit hê, so ek dink ek het gelewer waarvoor hulle gevra het."

Mahlangu het sy Paralimpiese buiging vyf jaar gelede in Rio de Janeiro as 'n 14-jarige penkop gemaak, en die verbeelding aangegryp deur silwer in die 200 te wen. Die enigste man wat hom toe kon klop, was die Brit Richard Whitehead - en Vrydag moes Mahlangu alles uithaal om 'n herhaling daarvan te verhoed.

Whitehead, 'n tweemalige Paralimpiese kampioen oor 200 m, is 45 jaar oud en het reeds gesê dit is sy laaste Spele. Dit was duidelik dat hy sy loopbaan op 'n hoogtepunt wou afsluit, en hy was vir die grootste deel van die wedloop in die voortou.

Mahlangu, wat op 'n reënerige aand versigtig weggespring het nadat hy in 'n oefening gegly het, was tot sowat 60 m voor die eindstreep tweede, maar het toe die krane oopgedraai en 'n goeie drie treë voor Whitehead oor die eindstreep gehardloop.

Van wrokkigheid was daar agterna geen sprake nie, met Whitehead die eerste man wat Mahlangu geluk gewens het. Die wedersydse respek tussen hulle was duidelik toe Mahlangu die silwermedalje om Whitehead se nek gehang het, en die Brit goud om Mahlangu se nek geplaas het.

"Ek het geweet (Whitehead) sou niks vir my op 'n skinkbord gee nie, en aan die begin het hy my behoorlik gas gegee," het Mahlangu gesê. "Ek moet sê, om dit op 45 te kan doen . . . wat 'n ongelooflike atleet. En wat 'n manier om 'n loopbaan af te sluit. Dis vir my 'n eer om teen hom te kon hardloop."

Mahlangu het gesê hy dink nog nie aan wat volgende in sy loopbaan wag nie, maar het gesê hy hou van die idee om " 'n Paralimpiese ster te wees wat baie mense inspireer".

"My doelwit was om by die Paralimpiese Spele uit te kom en vir mense daarbuite te wys enigiets is moontlik."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM