Paralimpiese Spele

Langenhoven brul in Rio

Hilton Langenhoven tydens die verspring-kompetisie van die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro. Foto: Gallo Images
Hilton Langenhoven tydens die verspring-kompetisie van die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro. Foto: Gallo Images

Hilton Langenhoven sal sy visier Saterdag op sy tweede goue medalje van die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro instel na 'n uitstekende vertoning in die uitdunne van die 200 m (T12).

Langenhoven en Jonathan Ntutu het albei Vrydagaand tot die halfeindronde van die item deurgedring - Langenhoven met die vinnigste tyd van al die deelnemers en Ntutu met 'n seisoenbeste tyd wat hom by die agterdeur sien inglip het.

Langenhoven, wat in 2008 in Beijing goud in die 200 m gewen het en vroeër vandeesweek koning gekraai het in die T12-verspring, het in Rio se atletiekstadion stem dik gemaak met 'n blitsige 22.27 s. Hy het deurgaans gemaklik gelyk en met 'n breë glimlag oor die eindstreep gehardloop.

Ntutu, wat net 24 uur tevore silwer in die 100 m gewen het, het derde in sy 200-uitdun geëindig met 'n tyd van 22.91.

Ook Dyan Buis, wat Donderdag verspring-brons gewen het, het Vrydag deurgedring tot 'n halfeindronde. Die Stellenbosser was in aksie in die eerste ronde van die 400 m (T38) en het met 'n tyd van 54.66 (die vierde beste van al die deelnemers) aanbeweeg.

Die grootste storie vir Span Suid-Afrika Vrydag was natuurlik die sukses van nog 'n Eikestad-atleet, Charl du Toit, wat sy tweede goue medalje van die Rio-Spele gewen het.

'n Verheugde Charl du Toit in die oomblikke nadat hy Vrydag sy tweede goue medalje van die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro gewen het. Foto: SASPA
'n Verheugde Charl du Toit in die oomblikke nadat hy Vrydag sy tweede goue medalje van die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro gewen het. Foto: SASPA

Du Toit het koning gekraai in die 400 m (T47) toe hy met 'n Paralimpiese rekordtyd van 51.13 s stof in sy teenstanders se oë geskop het. Die 23-jarige blits het byna twee sekondes voor die silwermedalje-wenner, Omar Monterola van Venezuela (52.93) oor die eindstreep gehardloop.

Du Toit se medalje was Suid-Afrika se veertiende van die Spele en die land se sesde goue. Daar is ook vier silwer- en vier bronsmedaljes in die SA versameling.

Lees ook:Weerlig met 'n glimlag

* In ander aksie Vrydag moes Anruné Liebenberg, wat Woensdag silwer in die 400 (T47) gewen het, tevrede wees met die vierde plek in die 200 m.

Liebenberg, wat vanjaar twee knieoperasies ondergaan het en haar teenwoordigheid in Rio as " 'n wonderwerk" bestempel het, het 'n seisoenbeste tyd van 26.57 opgestel en meer as 'n sekonde ná die wenner, Sri Lanka se Deja Young (25.46) oor die eindstreep gehardloop.

Die Pool Alicja Fiodorow (25.61) en China se Li Lu (26.26) was saam met Young op die podium.

By die Olimpiese park het die swemmer Emily Gray net-net te kort geskiet in die uitdunne van die 100m-rugslag (S9). Gray was met 'n tyd van 1 minuut en 16.42 sekondes die negende vinnigste swemmer in al die uitdunne, maar net die voorste agt het deurgedring na die eindronde.

Die perderuiter Philippa Johnson is vroegoggend uitgeskakel in die dressage se individuele vrystyl-kompetisie.

Op die Copacabana-strandfront het Craig Ridgard se droom van 'n medalje in die C2-padfietsren skipbreuk gely toe hy in 'n botsing betrokke was en net 28ste kon eindig. Goldy Fuchs was negende in die T2-padfietsren.

SA deelnemers Saterdag in Rio

Hou dié Suid-Afrikaners Saterdag op die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro dop.

Swem (SS 13)

15:40: Uitdunne: Alani Ferreira (100 m-rugslag, S13).

*Eindronde Sondag om 00:05.

Atletiek (SS 14)

15:10: Eindronde: Zanele Situ (Diskusgooi, F55);

15:44: Eindronde: Ilse Hayes (400 m, T13);

16:19: Halfeindronde: Hilton Langenhoven & Jonathan Ntutu (200 m, T12);

* Eindronde om 23:55.

22:54: Eindronde: Dyan Buis (400 m, T38);

23:21: Eindronde: Mpumelelo Mhlongo (Verspring, T44).

Padfietsry (word nie uitgesaai)

14:30: Padwedren: Dane Wilson (C4-5).

* Daaglikse regstreekse uitsendings van 14:30 op SS 13 en SS 14 op DStv. SABC 2 saai om 07:10 en 22:00 hoogtepunte uit.

* Met die veronderstelling dat die SA deelnemer die eindronde haal.

* (Alle tye SA tyd)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM