Paralimpiese Spele

Graham Paull se Rio-droom word waar

Graham Paull by die onlangse Para-roeikampioenskapbyeenkoms in Duitsland. Paull het pas gekwalifiseer om Suid-Afrika in Rio de Janeiro te verteenwoordig.
Graham Paull by die onlangse Para-roeikampioenskapbyeenkoms in Duitsland. Paull het pas gekwalifiseer om Suid-Afrika in Rio de Janeiro te verteenwoordig.

Drie jaar gelede het rugmurgontsteking Graham Paull (29) platgetrek. Binne dae is dié kranige atleet met die slegste nuus denkbaar gekonfronteer: Hy was van sy middellyf af verlam.

Vir Paull, wat in Fourways woon, was dit egter nie 'n doodsvonnis nie.

Hy het begin roei en het pas gekwalifiseer om in September aan die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië, deel te neem.

"Ek is vreeslik opgewonde," sê hy. "Ek kon nie droom dat so iets met my kon gebeur het nie, maar dis nou 'n realiteit."

Paull roei vir die afgelope twee en 'n half jaar en het nooit gedink dat sy stokperdjie hom so ver sal vat nie.

"Tydens my rehabilitasie het ek James Godden van Paracanoeing SA ontmoet wat my aan roei bekend gestel het," sê Paull.

Omdat hy altyd aktief was, het Paull besluit om dit te probeer.

"Dit het my die geleentheid gegee om fiks te bly."

Paull vertel dat hy destyds eers net die gebruik van sy voete verloor het.

Hy was drie maande in die hospitaal, waar hy ná weke se behandeling aanvaar het dat hy sy lewe in 'n rolstoel sal deurbring.

"Ek was nooit moedeloos nie en het 'n sterk ondersteuningstelsel gehad en geweet dat daar nog baie is wat ek met my lewe wil doen," sê Paull.

Rugmurgontsteking word by net vyf uit 'n miljoen mense ter wêreld gediagnoseer.

Afhangende van die onderliggende oorsake van die ontsteking, kan lyers ná 'n paar weke, maande of jare weer loop. Party kry egter nooit die gebruik van hul bene terug nie.

"Ek weet nie wanneer ek weer sal kan loop nie, maar tot dan sal ek nie ophou lewe nie," sê Paull. Hy roei daagliks saam met Godden en ander by die Emmarentiadam.

Verlede jaar April het Paull aan die Gauteng-roeikampioenskapsbyeenkoms deelgeneem waar hy na die nasionale rondes deurgedring en gewen het.

Oktober verlede jaar het hy aan die wêreldkampioenskapbyeenkoms in Milaan, Italië, deelgeneem waar hy vyfde gekom het. Paull was weer onlangs by die wêreldkampioenskapbyeenkoms, waar hy sewende gekom het. Dit was genoeg om hom vir Rio te laat kwalifiseer.

Paull is in Magoebaskloof in Tzaneen gebore en het twee en 'n half jaar gelede na Johannesburg verhuis vir sy rehabilitasie. Hy werk tans as 'n verkoopsagent by 'n ingenieursmaatskappy in Droste Park in Johannesburg se middestad.

Bombi Mavundza

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM