Paralimpiese Spele

Silwer swanesang vir Ilse

Ilse Hayes het Saterdag die sewende Paralimpiese medalje van haar loopbaan gewen. Foto: SASPA
Ilse Hayes het Saterdag die sewende Paralimpiese medalje van haar loopbaan gewen. Foto: SASPA

Ilse Hayes se Paralimpiese avontuur het 12 jaar gelede in Athene begin in die 400 m, toe sy as tiener brons opgeraap het.

Dit was gepas dat sy die avontuur Saterdag afgesluit het in die 400 m - en dié keer silwer verower het.

Die 31-jarige Hayes se glorieryke Paralimpiese loopbaan het Saterdag in Rio de Janeiro ten einde geloop, toe sy danksy 'n reuse-eindpoging in die 400m vir siggestremde vroue in die T13-kategorie vir die sewende keer op die podium gestaan het.

'n Indrukwekkende vaartversnelling oor die laaste 150 meter van dié item het haar verby vier ander atlete sien storm om tweede te eindig en haar tweede silwermedalje van vanjaar se Spele in te palm, ná 'n soortgelyke sukses verlede Sondag in die 100 m.Hayes is in die 400-eindronde gekniehalter deur 'n stadige wegspring, en was halfpad deur net sesde, maar het daarna die vuurpyle in haar skoene aangeskakel.Sy is met 'n tyd van 56.49 sekondes oor die eindstreep, ná Nantenin Keïta van Frankryk (eerste in 55.78)."Ek het my Paralimpiese loopbaan begin in die 400, met brons, en nou geëindig daarin met silwer, so ek is baie dankbaar," het sy in 'n video-onderhoud met gesê. "Ek het nie regtig geoefen vir die 400 nie en toe hardloop ek vandag (Saterdag) my tweede vinnigste tyd ooit daarin. Dis sonder twyfel een van die hoogtepunte van my loopbaan."

Hayes is in 1996 as 11-jarige gediagnoseer met Stargardt se siekte, wat 'n persoon se vermoë om detail te onderskei, beïnvloed. Sy het uit die staanspoor geweier om haar daardeur te laat onderkry en reeds as tiener die tonge laat klap met haar spoed en veggees.

Die manier waarop sy gedwing is om aan te pas, is iets wat steeds handig te pas kom.

Hayes se fokus was vir die grootste deel van die huidige Olimpiese siklus op die 100 en 200, eerder as op verspring, waarin sy in 2008 en 2012 Paralimpiese goud gewen het.

Maar 'n onverwagte draaibal het haar gedwing om haar Rio-planne te verander.

Omdat die 200 nie in Rio de Janeiro in die T13-kategorie aangebied is nie, moes die Stellenbosser haar begin toespits op die 400.

En ondanks haar gebrekkige onlangse ervaring daarin, het dít nou vir groot vreugde gesorg.

Hayes het gesê sy sal haar nou toespits op haar voorbereiding vir aanstaande jaar se Wêreldbyeenkoms in Londen, voor sy haar spykerskoene wegbêre.

"Ek het goeie herinneringe aan Londen (waar sy in 2012 Paralimpiese goud en silwer gewen het) en darem sal ek by die wêreldbyeenkoms die 100 en 200 kan doen. So dis nog een groot ding om myself voor te lig."

Hayes se medalje was Suid-Afrika se 15de van die Spele. Daarvan was ses goud, vyf silwer en vier brons.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM