
Die Bulle het ’n vaskopstut gekontrakteer met groot skrumervaring teen die beste loskop ter wêreld.
Mawande Mdanda oefen vier dae per week sy skrumwerk teen Ox Nche by die Haaie, en is nou op pad na Loftus Versfeld as ’n moontlike plaasvervanger vir Wilco Louw.
Louw sluit hom later vanjaar by die Stormers aan.
Francois Klopper en Mornay Smith is die ander aanspraakmakers op Louw se nr. 3-trui. Die Bulle het hulle albei reeds tot 2029 vasgemaak, terwyl Jean Erasmus as ’n langtermynopsie as vaskopstut vir Johan Ackermann beskou word.
Terloops, Klopper het die Springbok-hulpafrigter Felix Jones volgens Rapport se inligting baie beïndruk tydens sy besoek aan Loftus Versfeld.
Die 22-jarige Mdanda het ’n tweejaarkontrak met die Bulle gesluit.
Die oudleerling van Maritzburg College keer later vanjaar terug na die unie wat hom in sy matriekjaar ’n kontrak aangebied het. Die Cheetahs het ook toe in hom belang gestel, maar hy het die Bulle gekies.
In 2022 het hy vir die Bulle se seëvierende junior spanne gespeel, waar hy sterk op die voorgrond getree het. Die volgende jaar is hy vir die Junior Bokke gekies en die jaar daarna het hy hom by die Haaie aangesluit.
Die vaskop, wat sowat 132 kg weeg en 1,89 m lank is, het die Haaie vanjaar in die Verenigde Rugbykampioenskap en Europese Uitdaagbeker verteenwoordig.
Hy, Klopper, Smith en Erasmus sal vorentoe arm druk om te bepaal wie Louw vervang.

“Dit gaan nou afhang van die aanspraakmakers self wie hulle hand opsteek om Wilco te vervang,” sê ’n bron.
• Mdanda se vertrek het die Durbaniete genoodsaak om Nemo Roelofse te kontrakteer.
Die Haaie is boonop bewus dat ’n moeilike pad wag op die 36-jarige Trevor Nyakane om sy terugkeer tot die speelveld te maak.
Nyakane is al ’n geruime tyd van die speelveld met ’n besering.
Die 30-jarige Roelofse speel sy rugby tans vir die Franse klubspan Perpignan. Hy is ’n oudleerling van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal.
’n Dekade gelede het Roelofse vir die Suidwestelike Distrikte uitgedraf en ook vir die Madibaz in die Varsitybeker-reeks diens gedoen voordat hy die geleentheid gekry het om sy loopbaan oorsee voort te sit.
In 2016 is hy na die klubspan Albi in die suide van Frankryk.
Die jaar daarna het hy na Nevers geskuif en daarna ook vir Stade Français verteenwoordig, voordat sy naam in 2023 op Perpignan se betaalstate verskyn het.
Rapport Praat Sport:
100002















