Rugby

Campese sê rugby is deesdae ’n grap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die voormalige Wallaby-rugbyheld David Campese geniet nie meer die spel nie. Foto: Getty Images
Die voormalige Wallaby-rugbyheld David Campese geniet nie meer die spel nie. Foto: Getty Images

Die Wallaby-legende David Campese sê rugby is 'n grap wat deur skeidsregters oorheers word.

Campese (59), wat in 101 toetse vir Australië gespeel het, het aan die Daily Mail Australia gesê dis vir hom moeilik om tans rugbywedstryde te geniet.

Die skeidsregter Ben O'Keeffe praat met Siya Kolisi tydens die afgelope naweek se toets tussen die Wallabies en die Springbokke in Sydney. Foto: Getty Images
Die skeidsregter Ben O'Keeffe praat met Siya Kolisi tydens die afgelope naweek se toets tussen die Wallabies en die Springbokke in Sydney. Foto: Getty Images

"Dis 'n grap. Die skeidsregters dink hulle is die belangrikste persone op die veld," het Campese gesê.

"Hulle dink dit gaan oor hulle, maar dis nie die geval nie. Dit gaan oor die spel. Dit gaan oor die spelers en die ondersteuners.

"Mense betaal nie geld om te kyk hoe blaas 'n skeidsregter sy fluitjie nie. Hulle gaan om rugby te kyk.

"Hulle wil drieë sien, nie strafskoppe nie. Dis hartseer. Dinge is 'n grap soos dit nou is."

Volgens Campese - wat as 'n baie vermaaklike speler bekend was - raak rugby vir ondersteuners al hoe moeiliker om te volg.

"Ek weet ek praat oor die goeie ou dae, maar dis moeilik om dit nie te doen nie. Ek gee toe, ek is 'n ouballie, maar ek was nog altyd uitgesproke en ek kan nie sê iets is goed as dit nie is nie," het hy gesê.

"Die televisiebeamptes en die skeidsregters is besig om die spel te ruïneer."

Die webwerf www.stuff.co.nz verskaf statistiek wat Campese se kommer steun.

In die eerste toets in vanjaar se Rugbykampioenskap tussen die Wallabies en die Poemas in Mendoza was daar 30 strafskoppe.

In die derde toets in 2002 se Bledisloebeker-reeks tussen die Wallabies en Nieu-Seeland was daar net 11 strafskoppe.

Ander dinge wat toeskouers deesdae kwaai irriteer, is die tydmorsery met skrumtyd en die teleurstellend min tyd wat die bal regtig in spel is.

Campese het ook gesê hy sal "graag" betrokke wou raak en die spel help "gesond" maak, maar "niemand wil luister" nie.

"Dis moeilik om te sluk. Ek word oral in die wêreld, behalwe in my eie land, gerespekteer," het hy gesê.

"My arme vrou. ‘Waarom doen jy dit aan jouself? Waarom stap jy nie net weg nie?' vra sy, maar ek kan nie. Ek is lief vir rugby. Dis al wat ek ken."

* Kyk hier na hoogtepunte uit David Campese se speeldae:

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM