Die Northampton Saints het Saterdag op hul tuisveld in Engeland tot die halfeindronde van die Kampioenebeker-reeks deurgedring deur die Bulle ietwat aan flarde te hardloop.
Die Saints het met 59-22 gewen en in die proses agt drieë gedruk.
Van die drieë wat die Bulle afgestaan het, sou die legendariese afrigter brig. Buurman van Zyl soos 'n torpedo in sy graf laat rondtol het.
Van Zyl en sy Bulle van toentertyd het hulle daarop geroem dat spanne bloed moes sweet om teen hulle drieë te druk.
Die Bulle het teen die Saints hul bes gedoen, maar met die gesnoei aan die span het van die manne skynbaar die verdedigingsplan vergeet.
Bygesê, die Saints het met mening aangeval. Die Engelse span het soos een gelyk wat graag die Kampioenebeker wil wen.
Die Bulle het self 'n paar goeie oomblikke op die aanval beleef.
Daar was 'n lekker onderskepdrie van sy eie doellyn af van die vleuel Sebastian de Klerk en die bebaarde haker Akker van der Merwe het ná een van sy tipiese stormlopies ook gaan druk.
Die jong agtsteman Cameron Hanekom het ook weer goeie spel gelewer, hoewel hy na 'n gevaarlike duikslag met 'n geel kaart afgestuur is.
Die voormalige Stormer Juarno Augustus het self vir die wenspan klipharde agtstemanspel gelewer.
• Puntemakers: Northampton 59 (28): Drieë: James Ramm (2), Courtney Lawes, Ollie Sleightholme, Alex Mitchell (2), Alex Coles, Fraser Dingwall, Juarno Augustus. Doelskoppe: Fin Smith (7).
Bulle 22 (22): Drieë: Cameron Hanekom, Akker van der Merwe, Sebastian de Klerk. Doelskoppe: Chris Smit (2). Strafskop: Smit (1).
















