Frankryk gaan waarskynlik sonder ’n hele aantal van sy eerstekeuse-spelers wees vir ’n Nasiesbeker-toets teen Nieu-Seeland nadat die Franse Rugbyfederasie (FFR) en die Franse Rugbyliga (LNR) Dinsdag ’n ooreenkoms aangekondig het.
Fabien Galthié se Hane pak die All Blacks in Christchurch op 4 Julie, maar die hoofafrigter sal nie spelers kan kies wat betrokke is by die Franse Top 14-eindstryd, wat ’n week vroeër in Parys beslis word, nie.
Galthié sal dan kan kies wie hy wil vir die tweederonde-wedstryd teen Australië, maar sal op ’n geval-tot-geval-grondslag met die klubs moet ooreenkom.
Antoine Dupont se Toulouse is ná 14 rondes van die seisoen boaan die punteleer, met Louis Bielle-Biarrey se Bordeaux-Bègles, Pau en Stade Francais wat ook meeding om die eindstryd op 27 Julie te haal.
Galthié, die voormalige Franse kaptein, het ook verlede seisoen ’n verswakte groep gekies om teen die All Blacks te speel en het al drie toetse verloor.
Die FFR en die LNR, wat die Top 14-reeks bestuur, sê die ooreenkoms om spelers vry te stel, sal tot 2031 geld en sal by albei liggame se jaarvergaderings op 4 Februarie bekragtig word.

“Dit is die regte kompromie om die beste liga ter wêreld te hê en die Franse nasionale span in ’n posisie te plaas om ’n Wêreldbekertoernooi te wen,” sê hulle in ’n verklaring.
“Dit is ’n beginsel van intelligensie en samewerking tussen die Franse afrigters en die klubafrigters.”
Galthié sal ’n groep van 42 spelers vir elke toernooi kan kies, insluitend die komende Sesnasiesreeks, maar met nuwe beperkings soos ’n maksimum aantal spelers van een klub in sy uitgebreide groep.
Frankryk, die verdedigende Sesnasieskampioen, sal sy nuwe veldtog op 5 Februarie begin.
3878




















