Die Franse Rugbyfederasie (FFR) sê die heelagter Melvyn Jaminet is uit die nasionale span geskors nadat hy 'n video wat 'n rassistiese uitlating bevat op sosiale media geplaas het.
Die 25-jarige Jaminet, wat vir die Top 14-klub Toulon speel, sê in die video: "Ek sal die eerste Arabier wat ek teëkom 'n kopstamp gee."
Frankryk toer in Argentinië vir 'n reeks van twee toetse teen die Poemas.
"Die FFR veroordeel ten sterkste die opmerkings wat deur Melvyn Jaminet in 'n onlangse video op sosiale netwerke gemaak is. Sulke kommentaar is heeltemal onaanvaarbaar en strydig met die fundamentele waardes van ons sport," sê die FFR in 'n verklaring.
"Melvyn Jaminet is gevolglik summier geskors en hy verlaat die Franse span wat tans in Argentinië toer."
Jaminet het op Instagram vir sy kommentaar om verskoning gevra.
"Ek verstaan dat dit baie mense seergemaak en beledig het en ek wil dit duidelik maak dat hierdie kommentaar geensins my waardes of dié van die Franse rugbyspan weerspieël nie," sê hy.
"Rassisme, in al sy vorme, is onaanvaarbaar en druis in teen alles waarin ek glo."
Die FFR het bygevoeg dat 'n interne ondersoek aan die gang is.
Die besluit is deur die Franse sportminister, Amélie Oudéa-Castéra, verwelkom en sy het op X gevra dat rassisme deur niemand geduld word nie. - Reuters




















