Ierland moes Saterdag in Rome 'n goeie 71 minute spook om 'n hardnekkige Italiaanse rugbyspan te tem.
Die Ierse regtervleuel, Mack Hansen, het 'n tweekuns aan drieë gedruk om sy span te help om Italië met 34-20 in dié Sesnasies-wedstryd te klop.
Met hierdie oorwinning is Andy Farrell (afrigter) se span nou stewig op koers na die Grand Slam-titel.
Dit het vroeg gelyk of Ierland maklik sou wen. Die Iere het ná net 35 minute reeds vier drieë gedruk, maar die Italianaes het ander planne gehad.
Hulle het die bal van oral op die veld begin rondgooi en is met drieë deur Stephen Varney (skrumskakel) en die vleuel Pierre Bruno beloon.
Ierland het met rustyd met 24-17 voorgeloop, met die wedstryd wat steeds op 'n mespunt was.
Die uitslag was in die weegskaal tot en met die 71ste minuut, toe Hansen sy tweede drie gedruk het.
Die Ierse senter Bundee Aki het gemengde gevoelens oor die oorwinning gehad.
"Ons het 'n paar uitstekende oomblikke beleef, sowel as oomblikke van presies die teenoorgestelde," het hy gesê.
"Alle eer egter aan Italië. Ons het geweet dit sou taai wees hier in Rome. Hulle is 'n trotse sportland.
"Hulle is passievol oor rugby en het nie geskroom om oop, aanvallende rugby op te dis nie, soms selfs vanaf hul eie doellyn," het Aki gesê.
- Mack Hansen (2), James Ryan, Hugo Keenan, Bundee Aki. Doelskoppe: Ross Byrne (3). Strafdoel: Byrne. Italië 20 (17): Drieë: Stephen Varney, Pierre Bruno. Doelskoppe: Paolo Garbisi (2). Strafdoele: Garbisi (2).




















