Dit was so hittete of die All Blacks het Saterdag skande teen Japan in Tokio gemaak.
Nieu-Seeland het die wedstryd tussen die twee spanne naelskraap met 38-31 voor meer as 60 000 toeskouers in Tokio se nasionale stadion gewen.
In die laaste 14 minute van die wedstryd moes die All Blacks met slegs 14 man oor die weg kom omdat hul slot Brodie Retallick, in sy 99ste toets, met 'n rooi kaart afgestuur is.
Die wenspan het vroeg in die wedstryd met 21-3 voorgeloop ná drie verdoelde drieë. Voordat die fluitjie egter vir rustyd geblaas het, het die Brave Blossoms, wat nog nooit die All Blacks kon klop nie, twee keer gaan druk.
Dit het die telling ná 40 minute se spel 21-17 in die Nieu-Seelanders se guns gemaak.
In die tweede helfte het die vleuel Caleb Clarke en die agtsteman Hoskins Sotutu ook vir die All Blacks gaan druk. Japan het ook twee drieë in die laaste 40 minute van die wedstryd gedruk, met die slot Warner Dearns en die flank Kazuki Himeno wat oorgeduik het.
Richie Mo'unga (losskakel) het al vyf die All Blacks se drieë verdoel.
Op die einde van die dag het Japan amper in sy vyfde wedstryd teen Nieu-Seeland, 'n driemalige wenner van die Wêreldbeker, koning gekraai.
• Die All Blacks se volgende kragmeting is op 5 November teen Wallis in Cardiff. Japan speel op sy beurt op 12 November teen Engeland op Twickenham in Londen. - Reuters; Sportredaksie



















