Weg van die veld gaan die Walliese Rugbyunie gebuk onder aantygings van vrouehaat, seksisme, rassisme en homofobie. Dit het vandeesweek tot die bedanking van hul uitvoerende hoof, Steve Philips, gelei. En op die veld het dit gisteraand nie veel beter verloop nie.

Die Iere het hulle voor 75 000 toeskouers in Cardiff met 34-10 geklop. Ierland is nou bo-aan Wêreldrugby se ranglys.
Andy Farrell se span het by hul wedstrydplan gehou en 'n bykans foutlose vertoning in die eerste tien minute gelewer. Hul pak het van die begin af die oorhand gehad en vroeg met 14-0 voorgeloop.
Leinster se Caelan Doris (agtsteman) en James Ryan (slot) het oorgedryf vir die drieë, en die Leinster-invloed, met vyf spelers in die Ierse pak, was beduidend.
Die Leinster-heelagter, Hugo Keenan, is ook aangewys as die Speler van die Wedstryd, vanweë sy konstruktiewe spel op die aanval en rotsvaste verdediging.
Wallis se agttal, en veral sy vaste vyf, het nie spierkrag om gedugte teenstand onder te kry nie. Die tuisspan het nietemin moedig probeer. Hulle het verskeie kanse naby die doellyn gehad, maar die Ierse verdediging het gehou.
Ierland het 'n derde drie voor rustyd behaal toe James Lowe onderskep het juis toe Wallis weer op die aanval was en hulle het met 27-3 voor gaan rus.
Wallis het ná vyf minute in die tweede helfte eindelik gaan druk.
Liam Williams, wat die beseerde Leigh Halfpenny kort voor die toets op heelagter vervang het, het deurgaans uithalerspel gelewer en was telkens gevaarlik.
Wallis het die tweede helfte oorheers met besit en gebiedsvoordeel, maar hulle kon nie die Iere buig nie.
Die Drake het teen die einde op 'n kol agttien aangeë uitgevoer, en 12 fases geskep, maar het in die ganse proses nie 'n meter veld gewen nie.
In die 75ste minuut het die uithalerflank Josh van der Flier, ook van Leinster, Wallis uitgeknikker toe hy oorgebars het vir sy drie.
Dit het ook aan Ierland 'n bonuspunt verskaf in die openingswedstryd van vanjaar se Sesnasies-reeks.
- Punte: Wallis 10 (3): Drieë: Liam Williams. Doelskoppe: Dan Biggar. Strafdoele: Biggar. Ierland 34 (27): Drieë: Caelan Doris, James Ryan, James Lowe, Josh van der Flier. Doelskoppe: Johnny Sexton (4). Strafdoele: Sexton (2).

Skotland het op Twickenham in Londen, danksy 'n skitterende tweekuns deur die boere-Skot Duhan van der Merwe, sy aanslag op die Sesnasies-kroon op 'n dramatiese noot begin deur Engeland met 29-23 te skok.
Engeland, onder die nuwe afrigter, Steve Borthwick, was rustyd met 13-12 voor. Die Rose was kort voor die einde met 23-22 voor voordat Van der Merwe 'n doodsnikdrie, sy tweede, gedruk het om die Engelse te kelder.
Engeland het voorlangs oorheers, gebiedsvoordeel geniet en die Skotte gewurg, maar hulle kon nie die uitklophou plant nie.
Van der Merwe se langafstand-drie in die eerste helfte het ná 'n doellose skop deur die Engelse skrumskakel, Jack van Poortvliet, gevolg. Van der Merwe het sowat 60 m ver genael en met 'n rits lyfswaaie en swenke vyf verdedigers geklop.
- Puntemakers: Skotland 29 (12): Drieë: Huw Jones, Duhan van der Merwe (2), Benjamin White. Doelskoppe: Finn Russell (3). Strafdoel: Russell.
- Engeland 23 (13): Drieë: Max Malins (2), Ellis Genge. Doelskop: Owen Farrell. Strafdoele: Farrell (2).




















