Internasionaal

Groot gees van All Blacks sterf op 71

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bruce Robertson, stersenter van die All Blacks, is Vrydag in die ouderdom van 71 oorlede. Foto: Getty Images
Bruce Robertson, stersenter van die All Blacks, is Vrydag in die ouderdom van 71 oorlede. Foto: Getty Images

Die All Black-legende Bruce Robertson is Vrydag in die ouderdom van 71 oorlede.

Dié supersenter, wat tussen 1972 en 1981 in 102 wedstryde en 34 toetse vir die All Blacks gespeel het, was volgens berigte uit Nieu-Seeland vir lank siek.

Die Counties Manukau-rugbyunie het in 'n verklaring gesê Robertson was 'n "ware dienaar van rugby" en dat die spel 'n "blywende nalatenskap" met sy afsterwe ryker is.

Hy het dié klub in 135 wedstryde verteenwoordig.

Robertson sal plaaslik onthou word as een van die spelers wat in 1981, met die Springbokke se berugte meelbomtoer in Nieu-Seeland, geweier het om teen die besoekers te speel.

Hy het hom voor die Bok-toer aan die Kiwi-groep onttrek uit protes teen die Suid-Afrikaanse regering se beleid van apartheid.

Dit het gevolg op die All Blacks se toer in Suid-Afrika in 1976, waar die span met 1-3 in 'n reeks teen die Bokke verloor het.

Op dié toer is Robertson diep ontnugter deur gebeure op en weg van die rugbyveld.

Hy was verstom oor wat die All Blacks beskou het as eenogige skeidsregters en is veral gewalg deur die diskriminerende persepsie van wit mense teenoor hul landgenote.

Dit het gelei daartoe dat Robertson vyf jaar later geweier het om in Nieu-Seeland teen die Springbokke te speel.

Baie kenners reken Robertson, 'n fris senter met 'n skerp oog vir 'n gaping, sou in die moderne era in veel meer toetse gespeel het.

Baie kenners reken Robertson, 'n fris senter met 'n skerp oog vir 'n gaping, sou in die moderne era in veel meer toetse gespeel het.

Gedurende die amateur-era was daar baie meer weekwedstryde en kragmetings wat nie toetsstatus gehad het nie.

Robertson het nietemin vier toetsdrieë en twee skepdoele in toetse op sy kerfstok.

Hy het die All Blacks in drie weekwedstryde gedurende toere in Frankryk en Brittanje in 1977 en 1978 aangevoer.

Ná sy uittrede het Robertson by die spel betrokke gebly as ontwikkelingsbeampte vir afrigters by die Auckland-unie. Hy was ook hulpafrigter van die Blues in die Superrugby-reeks. - stuff.co.nz

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM