Internasionaal

Hooper is Wallabies se beste

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Michael Hooper is Sondag vereer met Australiese rugby se hoogste individuele toekenning. Foto: Getty Images
Michael Hooper is Sondag vereer met Australiese rugby se hoogste individuele toekenning. Foto: Getty Images

Michael Hooper, Australiese rugbykaptein, het die eerste speler geword wat die toekenning as Australië se Speler van die Jaar 'n vierde keer wen.

Hooper is Sondag vereer met die John Eales-medalje vir sy spel in 2021.

Hooper het die toekenning ook in 2013, 2016 en 2020 gewen. Hy het Israel Folau nou verbygesteek as die suksesvolste speler op dié gesogte lys.

"Ek voel nederig om die John Eales-medalje te wen in 'n jaar waarin daar so baie puik vertonings in ons hele groep was," sê Hooper.

"Spelers speel beslis nie rugby vir individuele pryse nie, maar dit is tog spesiaal om só erkenning te kry by jou spanmaats.

"As 'n groep het ons verlede jaar baie goed gevorder, maar ons kan nog baie verbeter. Ek sien uit daarna om dit dié seisoen met die Waratahs en die Wallabies te doen.

Wallaby-spelers het verlede seisoen ná elke wedstryd vir die toekenning gestem en dit is die hoogste individuele eer in Australiese rugby.

Hooper het George Gregan se rekord vir die meeste wedstryde as Wallaby-kaptein verbeter.

Die 30-jarige flank was 65 keer Australië se kaptein in sy 118 toetsverskynings.

Hy het twee drieë gedruk en Australië na vyf agtereenvolgende oorwinnings gelei voordat hy in November in die Wallabies se nederlaag teen Engeland op Twickenham 'n besering opgedoen het. - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM