Daar wag 'n kwaai vuurdoop op Johann van Graan wanneer hy aan die einde van die rugbyseisoen die afrigter-leisels by Bath oorneem.
Leinster het gister op Bath se tuisveld tien drieë in sy wegholoorwinning van 64-7 gedruk en vir die uitspeelrondes vir die Europese Kampioenebeker-reeks gekwalifiseer.
Dit was Bath se derde nederlaag in die reeks en sy doppie blyk geklink te wees.
Ter versagting het Leinster verlede naweek in Dublin 13 drieë teen Montpellier gedruk.
Leinster het nou 30 drieë in sy laaste drie wedstryde gedruk.
Edinburgh, gelaai met 'n hele paar Suid-Afrikaanse spelers, was ook rooiwarm toe hy tien drieë in sy sege van 66-3 oor Brive, 'n vorige kampioen, gedruk het. - BBC




















