Internasionaal

Maori’s hardloop Iere dronk in 1ste helfte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Cian Healy, stut van Ierland, word van die veld gehelp nadat hy sy knie Woensdag in die wedstryd teen die All Black Maori’s beseer het.  Foto: Getty Images
Cian Healy, stut van Ierland, word van die veld gehelp nadat hy sy knie Woensdag in die wedstryd teen die All Black Maori’s beseer het. Foto: Getty Images

Die All Black Maori's het Ierland Woensdag in 'n sopnat Hamilton met 32-17 verslaan nadat hulle rustyd reeds met 32-10 voorgeloop het.

Zarn Sullivan (heelagter), Shaun Stevenson (vleuel), Brad Weber (skrumskakel) en die agtsteman Cullen Grace het voor rustyd agter die besoekers se doellyn gaan draai.

Die Iere het die tweede helfte met oorgawe begin en is by twee geleenthede oor die doellyn sonder om die bal te druk.

Gavin Coombes, agtsteman van Ierland, het wel in die 67ste minuut gaan druk om die Maori's se voorsprong te laat krimp.

Die Ierse senter Bundee Aki, wat die toerspan aangevoer het, het in die eerste helfte gaan afrond, maar die uitslag was nooit in twyfel nie.

"Ons was lus om die bal lekker rond te gooi. Daar is vooraf besluit om met flair te speel en teen 'n pas wat Ierland hopelik sou verras. Dit was pret," het Weber, die tuisspan se mede-kaptein, gesê.

Shaun Stevenson, haastige vleuel van die All Black Maori's, duik oor die doellyn vir een van vier drieë wat sy span in die eerste helfte teen Ierland gedruk het. Foto: Getty Images
Shaun Stevenson, haastige vleuel van die All Black Maori's, duik oor die doellyn vir een van vier drieë wat sy span in die eerste helfte teen Ierland gedruk het. Foto: Getty Images

Benewens die Maori's se oorheersing by die afbreekpunte sal Ierland ook bekommerd wees oor die kniebesering wat die deurwinterde stut Cian Healy in die tweede helfte opgedoen het.

"Ons het baie geleer vanaand. Die Maori's was aansienlik beter as ons en daar sal nou moue opgerol word voor die eerste toets," het Aki, wat die Chiefs in 2013 op dieselfde veld gehelp het om die Superrugby-titel te wen, gesê.

Ierland kom Saterdag in Auckland in die eerste van drie toetse teen die All Blacks te staan. - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM