Hoewel Wallis se rugbynaam nog nie naastenby in ere herstel is nie, het Warren Gatland se span darem daarin geslaag om in Rome sy eerste oorwinning in vanjaar se Sesnasies-reeks te behaal.
Deur vir Italië op sy tuisveld met 29-17 te verslaan, het die Walliesers ook vir hul gashere op die puntelys verbygesteek, en bevind hulle hulself nie meer in die vernederende laaste posisie nie.
Dit was ook Kiwi teen Kiwi met twee Noord-Eilandse afrigters aan die stuur van sowel Italië as Wallis.
Kieran Crowley, van Taranaki, het tot dusver met beperkte hulpbronne wondere verrig met die Azzurri, terwyl Gatland, van Waikato, 'n opdraande stryd voer met al die omstredenheid waarin Walliese rugby gewikkel is.
Italië, wat aanvanklik 'n paar sagte drieë sowel as 'n strafdrie in die eerste helfte afgestaan het, het die tweede skof met mening afgeskop en binne die eerste paar minute ná rustyd sy eerste drie aangeteken, gedruk deur die flank Sebastian Negri.
Met 'n tweede geel kaart kort daarna, het die Italianers vir hulself egter geen gunste bewys nie, en in die 50ste minuut het die Walliese agsteman, Taulupe Faletau, ná 'n vlymskerp breekslag deur losskakel, Owen Williams, die situasie uitgebuit deur langs die pale te gaan druk. Dit het aan die Drake 'n haas onaantasbare voorsprong van 29-10 besorg.
Die Walliesers het, selfs nadat Italië weer al 15 spelers op die veld gehad het, voorlangs beheer oorgeneem, en voortdurend groot druk op die tuisspan geplaas in sowel die skrums as lynstane.
Italië het oudergewoonte geweier om te gaan lê en hardnekkig teruggeveg om, met minder as 15 minute speeltyd oor, vir senter Juan Ignacio Brex oor te stuur.
Die Italianers het inderdaad Wallis se verdediging deeglik op die proef gestel in die laaste 10 minute met oomblikke van asemrowende ondernemende spel, maar dit was helaas nie goed genoeg om vir hulle 'n eerste sege in vanjaar se Sesnasies-reeks te besorg nie.
Wallis se veteraan-skrumskakel, Rhys Webb, is aangewys as Speler van die Wedstryd.
Puntemakers:
Wallis 29 (22) Drieë: Rio Dyer, Liam Williams, Taulupe Faletau, strafdrie. Doelskoppe: Owen Williams (2). Strafdoel: Williams.
Italië 17 (3): Drieë: Sebastian Negri, Juan Ignacio Brex.
Doelskoppe: Tommaso Allan (2). Strafdoel: Allan (1).





















