Die 36-jarige Morné Steyn is skielik in die binnebaan om die Springbokke se losskakel in die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus te wees nadat die koronavirus die Bok-kamp in 'n chaos gedompel het.
Rassie Erasmus en Jacques Nienaber, die breintrust van die Bokke, sal boonop genoop wees om die meeste van die voorste beskikbare Bokke vir die SA A- span te kies vir die wedstryd teen die Leeus-toerspan.

Erasmus-hulle se planne is duidelik in 'n warboel met al die positiewe toetse en die uitwerking daarvan op hul planne met die oog op die eerste toets op 24 Julie.
Die moontlikheid bestaan selfs dat die SA A-span Woensdag en Saterdag in twee wedstryde teen die Leeus sal speel.
Steyn se terugkeer tot toetsrugby lyk al hoe waarskynliker met Handré Pollard wat hom in die Covid-19-siekeboeg bevind.
Steyn is met 66 toetse op sy kerfstok die mees ervare Bok-losskakel nog. Sy laaste toets vir die Bokke was op 8 Oktober 2016 in Durban. Pollard het hom reeds in 2019 as die Bokke se eerstekeuse-losskakel in die Rassie Erasmus-era gevestig.
Tot voordat hy positief getoets is, is hy as 'n vanselfsprekende keuse vir die drie toetse teen die Britse Leeus beskou.
Die Bokke se ander opsie op losskakel is Elton Jantjies. Die 30-jarige Jantjies het self al 38 toetse se ervaring agter die rug. Hoewel wisselvallig, kan hy die gang van 'n wedstryd swaai as hy die dag op dreef is.
Sy gebrekkige vorm in die eerste toets teen Georgië moet wel 'n bekommernis vir die Bok-bestuurspan wees.
Om sake vir Erasmus en Nienaber te vererger wat hul beplanning en spankeuses betref, is eergisteraand se toets tussen die Bokke en Georgië weens al die koronavirusgevalle in albei spanne afgelas.
Erasmus-hulle moet nou nuwe planne maak om te verseker dat hul span skerp genoeg vir 24 Julie se eerste toets is. 'n Deel van die nuwe planne kan wees dat die SA A-span Woensdag én Saterdag in die Kaap teen die Britse Leeus speel.
Verhinder Covid-19 dat die Bokke môre op die oefenveld kom, kan die Westelike Provinsie dan eerder Woensdag teen die toerspan speel en die SA A-span dan net in een wedstryd Saterdag.
Ander posisies waarin die Bokke onverwags deur Covid-19 en beserings uitgedun is, is op stut, slot, haker en onder die losvoorspelers.
Op haker het die moontlikheid vergroot dat Joseph Dweba die Bok-trui kan dra, aangesien Bongi Mbonambi en Scarra Ntubeni in die siekeboeg is.
Gelukkig is Malcolm Marx se toetse nog negatief en behoort hy die haker in die eerste toets te wees as Covid-19 verhinder dat Mbonambi en Ntubeni oorweeg word. Dis ook nie onmoontlik nie dat Akker van der Merwe of Fez Mbatha van buite die groep betrek word.
Op slot kan die deur vir Jean-Luc du Preez oopswaai om minstens deel van die "bomb squad" vir die eerste toets te wees. RG Snyman sal ná sy veloorplanting waarskynlik geen rol teen die Leeus speel nie en Lood de Jager en Marvin Orie tel onder die positiewe gevalle.
Eben Etzebeth, Sous Mostert, Nicolaas Janse van Rensburg en Du Preez is die beskikbare slotte, terwyl Rynhardt Elstadt veelsydig genoeg is om in 'n noodgeval as slot te oorweeg.
Covid-19 dun selfs Erasmus-hulle se opsies onder die losvoorspelers vir minstens die wedstryde van die SA A-span uit met Siya Kolisi, Kwagga Smith en Dan du Preez wat positief getoets is. Ongelukkig is ook die Bulle se Marcell Coetzee tans positief.
Goeie nuus vir die Bokke is dat Damian de Allende weer beskikbaar is en reeds volgende week vir die SA A-span kan speel. Cheslin Kolbe en Faf de Klerk behoort ook vir die SA A-span te speel om hulle skerp vir die eerste toets te hou.
Met Duane Vermeulen wat weens sy besering nie in die prentjie vir die eerste toets is nie, versterk dit Jasper Wiese se aanspraak op agtsteman om volgende week en op 24 Julie teen die Britse Leeus te speel.
Selfs Marco van Staden kan onverwags ‘n belangrike rol vir die SA A-span en in die eerste toets teen die Britse Leeus as sesflank speel.
'n Ingeligte het wel gister aan Rapport gesê die virusgevalle is aan die afplat in die Bok-kamp. Sekere spelers se positiewe toetse was ook vals en hulle kan dalk vir die SA A-spanne en die eerste toets oorweeg word.


















