Bloed, sweet en trane van vreugde vir 'n 37-jarige held.
Morné Steyn het Saterdagaand, soos in 2009, die reeks tussen Suid-Afrika en die Britse en Ierse Leeus deur sy skopstewel beklink.
Die een in die Kaapstad-stadion was 'n aansienlik makliker skop as die een op Loftus Versfeld 12 jaar gelede, maar dit was steeds 'n oomblik wat 'n man met 'n besonderse temperament geverg het.
Die Bokke was danksy daardie skop ná 80 klipharde minute met 19-16 baas en het sodoende ook die reeks met 2-1 beklink.

Hulle moes egter baie diep delf vir hierdie oorwinning. Trouens, die Leeus was grootliks baas in die eerste helfte en kon maklik met die omdraaislag veel verder as 10-6 voor gewees het.
'n Groot faktor in die besoekers se oorheersing in die eerste helfte was ironies in hul teenspoed gesetel. Dan Biggar, hul bestendige maar konserwatiewe losskakel, is ná 10 minute beseer wat die weg gebaan het vir Finn Russell om vroeër as wat aanvanklik beplan is, sy verskyning te maak.
Die gevolg was 'n inspuiting onvoorspelbaarheid in die Leeus se aanvallende spel wat die Bokke dikwels in die eerste helfte hoofbrekens besorg het. Suid-Afrika het met oorgawe verdedig, maar dit kom teen die prys van energie wat getap word.
Biggar het vroeg in die wedstryd 'n kans verbrou om die Leeus deur 'n strafskop die voorsprong te gee waarna Suid-Afrika vir 'n rukkie op die voorvoet was. Handré Pollard het dit 3-0 van die skopkegel af gemaak, maar die gelykmaker het enkele minute later deur Russell se stewel gekom.

Daarna het die Leeus balbesit gekaap en vir 'n lang ruk die Bokke se verdediging getoets. Dit het juis ook die weg vir die eerste drie gebaan toe die Bokke vir 'n hoogvat gestraf is nadat die Leeus die bal deur talle fases gedra het. Die bal is in die hoek uitgeskop en Ken Owens is van die dryfmaal af oor die doellyn.
Met net 'n kwart van die wedstryd verstreke was die Leeus in 'n baie sterk posisie op 10-3.
Vyf minute voor die einde van die eerste helfte het Pollard vir die Bokke drie punte se verligting gebring wat hulle op die balans van die spel nie verdien het nie. Met rustyd was die verskil gevolglik net vier punte en sou die Leeus gevoel het dat hulle nie genoeg van hul oorheersing gemaak het nie.
Soos in die tweede toets het die Bokke ná rustyd 'n ekstra rat gevind waarmee die Leeus gesukkel het om saam te leef.
Die Bokke het van meet af in die tweede helfte 'n houvas op die wedstryd gekry, maar Pollard het twee strafdoele verbrou.
Die keerpunt het met 'n bietjie minder as 'n uur verstreke gekom. Ali Price het die wedstryd se soveelste hoë skop gelanseer en sekondes later was Cheslin Kolbe oor die doellyn van die teenaanval af.
Maar het Jasper Wiese die hoë bal aangeslaan? Dit het soos 'n ewigheid gevoel terwyl die skeidsregter, Mathieu Raynal, en die TV-skeidsregter, Marius Jonker, met mekaar beraadslaag. Uiteindelik is besluit dat die drie bly staan en met Pollard se doelskop was die Bokke met 13-10 voor.
Die laaste kwart van die wedstryd was hoogdrama.
Russell het die Leeus laat gelyk trek waarna Steyn die Bokke die voortou gegee het. Toe's dit weer Russell se beurt voordat die 200 of so siele moes asem ophou vir Steyn se groot oomblik.
In 2009 was dit 'n heldedaad. Dié keer 'n sportsprokie wat in die annale van Springbok-rugby opgeteken staan.
Puntemakers:
Suid-Afrika 19 (6): Drie: Cheslin Kolbe. Doelskop: Handré Pollard. Strafdoele: Pollard (2), Morné Steyn (2).
Britse en Ierse Leeus 16 (10): Drie: Ken Owens. Doelskop: Finn Russell. Strafdoele: Russell (3).



















