Rugby

Michael Hooper binnekort terug by Wallabies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Michael Hooper is glo gereed om hom weer by die Wallabies aan te sluit.  Foto: Gallo Images
Michael Hooper is glo gereed om hom weer by die Wallabies aan te sluit. Foto: Gallo Images

Michael Hooper gaan glo volgende week saam met die Wallabies na die oefenveld terugkeer ter voorbereiding vir Australië se Europese toer in Oktober en November.

FoxSports berig die flank wil egter nie in sy rol as kaptein voortgaan nie.

Hooper, wat in 2014 op 22-jarige ouderdom vir die eerste keer as die Wallabies se kaptein aangewys is, beklee die rol op 'n gereelde grondslag sedert 2017. Hy het sy land in 68 toetse aangevoer, nege meer as George Gregan se vorige rekord.

Hooper (30) het die Rugbykampioenskap misgeloop nadat hy hom vroeg in Augustus op die vooraand van die eerste toets teen Argentinië aan die Wallaby-span onttrek het. Hy het destyds vir Dave Rennie, die span se afrigter, gesê dat sy gemoedstoestand nie van so 'n aard is dat hy kan speel nie. Hooper het na Australië teruggekeer en was sedertdien met verlof.

Hooper is gereeld in kontak met Rennie en Chris Webb, die spanbestuurder, en wil glo na die oefenveld terugkeer om homself kiesbaar te maak vir die Wallabies se jaareindtoer.

Die toergroep vir toetse teen Skotland (30 Oktober), Frankryk (6 November), Italië (13 November), Ierland (20 November) en Wallis (27 November) sal in Oktober bekend gemaak word.

Gesprekke oor of Hooper sal saamtoer, sal voortgaan ná afloop van sy terugkeer na spanoefeninge.

Rennie en Rugby Australië het hul standpunt duidelik gemaak dat hulle bereid is om Hooper so lank moontlik te gun om sy terugkeer te maak. - Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM