So nuut is Sam Whitelock nog in sy rol as 'n hulpafrigter dat hy steeds met sy mondskerm in sy rugsak reis.
Die legendariese All-Black-slot wat meer as 150 toetse op sy kerfstok het, is lid van Robbie Deans (hoofafrigter) se breierskorps vir die Barbarians se geskiedkundige kragmeting met die Springbokke Saterdag in Kaapstad.
Die Baabaas kom dan die eerste keer in hul lang geskiedenis op Suid-Afrikaanse bodem teen die Bokke te staan.
Whitelock (36) het ná verlede seisoen sy rugbystewels opgehang en kry nou die eerste keer kans om amptelik as breier sy kennis te deel.
"Ek reis steeds met my mondskerm in my sak, maar ek weet dit moet net daar bly," skerts hy.
"Dit maak nie saak in watter sport of in watter hoedanigheid jy betrokke is nie, jy wil opdaag en jou beste gee. Om hier te wees in 'n nuwe rol nadat ek verlede jaar nog gespeel het en nou vir die eerste keer 'n hulpafrigter is, is 'n lekker uitdaging."
Die Barbarians sal die wêreldkampioene Saterdag met 'n uiters ervare groep spelers pak en Whitelock reken dié geleentheid bevestig opnuut dat daar steeds 'n plek vir dié saamgeflanste uitnodigingspan in moderne rugby is.

"Die Barbarians is 'n baie spesiale klub. Jy moet uitgenooi word na die span. Ons het nie 'n tuisveld nie. Almal kom van verskillende lande en kompetisies af en trek saam vir die liefde vir die spel. Dis een van die lekkerste dinge in sport."
Eendeweer word Saterdag in die DHL-stadion verwag, maar die Barbarians, wat beroemd is vir hul bereidwilligheid om te vermaak, sal hulle nie daardeur laat afskrik nie.
Al plaas dié span meer klem op vermaak en genot, het die Bokke in die verlede al teen hulle gegly.
Trouens, dit is vanjaar al 'n kwarteeu sedert die Barbarians laas teen die Springbokke verloor het. Dit was in 2000 toe Suid-Afrika in Cardiff met 41-31 die botoon gevoer het.
In 2007 het 'n erg uitgedunde Springbokspan op Twickenham met 22-5 die onderspit gedelf terwyl die Barbarians ook in 2010 met 26-20 gewen het.
Die laaste keer toe dié spanne se paaie gekruis het, was in 2016 in die Wembley-stadion toe 'n doodsnikdrie deur Rohan Janse van Rensburg die Bokke van rooi gesigte gespaar het en 'n gelykop uitslag van 31-31 afgedwing is.
Whitelock sê hulle sal uiteraard hul goeie vertoningslys teen die Bokke wil voortsit en glo dat hul onvoorspelbaarheid weer 'n bate sal wees.
"Hulle kan ons as 'n span nie werklik vooraf ontleed nie, want ons het nog nooit as 'n groep saamgespeel nie. Hulle sal daarom hou by dit waarmee hulle goed is. Ons weet hulle gaan hul voorspelers gebruik en ons in bepaalde gebiede probeer vaspen. In dieselfde asem weet ons ook dat die Springbokke tans die vermoë het om aantreklike rugby te speel."

Hy gee egter toe dat die verwagte nat toestande dinge interessant kan maak en tog hul speelstyl kan beïnvloed.
"Ek dink daar moet 'n balans wees. Die weer is altyd die een ding wat sake kan beïnvloed. Tans word baie reën en winderige toestande voorspel, so ons sal daarvolgens voorberei. Ek sien net uit daarna om te sien hoe die ouens hulself op die veld uitdruk.
"Almal het tot dusver baie goed ingeskakel en dis heerlik om te sien hoe ouens wat in die verlede gereeld teen mekaar gespeel het, nou saam tyd deurbring en mekaar leer ken."
Een van die spelers in die hul groep is die Stormers se slot Ruben van Heerden.

"Ons het 'n bietjie tyd gehad om in te haal en te gesels oor rugby en wat ek nou doen. Dit is baie lekker om hom beter te leer ken. Hy is een van die ouens van wie ek nie noodwendig veel geweet het nie. Indien hy enigiets van my wil weet op 'n persoonlike vlak, is ek 'n oop boek. Hy het hope motivering en daarom sien ek uit daarna om hom te sien speel," sê Whitelock.
"Ek geniet dit om die volgende generasie te help. Ek het wonderlike bystand gekry toe ek gespeel het en ek wil daardie ondersteuning en kennis deel.
"Dit beteken nie my opinie is altyd reg nie. Spelers het hul eie sieninge, maar vir my gaan dit daaroor om my kennis te deel."
Die Barbarians kondig Donderdagmiddag hul span aan.



















