Moenie te veel in die All Blacks se onlangse vertonings en hul plek op die wêreldranglys lees nie, waarsku die Springbok-slot Lood de Jager.
"Niks het verander nie. Wanneer jy teen die All Blacks speel, berei jy voor om teen die beste span ter wêreld te speel," het hy Maandag op 'n mediakonferensie van die Bokke gesê.
De Jager weet immers waarvan hy praat.
Dit was Saterdag in Mbombela slegs die tweede keer in die nege toetse wat hy sedert 2014 teen die All Blacks aan die wenkant was.
Hy is gevra of die Bokke Saterdag enige leemtes van die besoekers blootgelê het toe hulle met 26-10 geseëvier het in die openingsronde van die Rugbykampioenskap.
"Nee, hulle is nie 'n span met leemtes nie. Ons moes baie hard werk om hulle planne te stop en dit sal die naweek weer so wees.
"Hulle sal die intensiteit na 'n hoër vlak toe neem. Vir baie van ons was dit die eerste keer wat ons hulle in Suid-Afrika geklop het.
"Die All Blacks is 'n trotse span en hulle sal nog meer desperaat wees as in Mbombela.
"Ons was ook al in die posisie wat ons vyfde of sesde op die wêreldranglys was.
"Jy doen dan al die moontlike om weer die nommereen te wees en hulle sal sonder twyfel dieselfde ingesteldheid hê."
Verskeie waarnemers voer aan Nieu-Seelandse rugby is swakker daaraan toe met die Suid-Afrikaanse spanne wat nie meer in die Superreeks speel nie.
De Jager is gevra of dit dalk 'n wedersydse nadeel kan wees.
"Dit is 'n baie goeie vraag. Saterdag se eerste helfte het teen 'n hoë intensiteit begin en die bal was vir lang rukke in spel.
"Ons het probeer om ons spelpatroon op hulle af te dwing deur te rolmaal en fisieke konfrontasie.
"Hulle het weer probeer om aanvallender te speel wanneer hulle besit gehad het.
"Dit was 'n uitputtende toets en daar was tye wat jy lekker diesel gesluk het.
"Ja, dalk mis hulle dit om te speel teen Suid-Afrikaanse spanne, wat rolmaal en 'n groot fokus op die vaste fasette het.
"Ons speel waarskynlik ook nie meer so baie (in die Verenigde Rugbykampioenskap) teen spanne wat só aanvallend speel soos die All Blacks nie."
Hy sê hulle sien daarna uit om Saterdag weer op Ellispark te speel.
"Ellispark is 'n spesiale plek vir Suid-Afrikaanse rugby en ons hoop die mense sal ons weer ondersteun en dat die atmosfeer weer so ongelooflik sal wees (soos in Mbombela).
"Jy kry nie 'n groter geleentheid as om op Ellispark teen die All Blacks te speel nie.
"Daar is 'n ryke geskiedenis tussen die spanne en dit het in die verlede soveel groot toetse opgelewer.
"Jy wil eenvoudig nie die ouens wat voor jou die trui gedra het, teleurstel wanneer jy die All Blacks aandurf nie."



















