Die druk laai vanuit alle oorde op die All Blacks voor Saterdag se tweede toets teen die Springbokke in Johannesburg.
Die Nieu-Seelanders is vandeesweek weer herinner aan die intimidasie faktor wat op Ellispark op hulle wag nadat 'n uittreksel uit die voormalige Springbok-kaptein John Smit se outobiografie op sosiale media versprei is.
Die Kiwi's lek nog hulle wonde ná verlede week se nederlaag met 26-10 teen die Bokke in Mbombela. Maar sake raak nie makliker vir die All Blacks nie, met baie van hulle wat nog nooit voorheen op die Suid-Afrikaners se heiligdom in die Goudstad gespeel het nie.
Smit se beskrywing van Ellispark is vandeesweek deur Clinton van der Berg, kommunikasiebestuurder van SuperSport, op Twitter aangehaal.
"Ellispark is so 'n spesiale plek vir die Bokke en hel op aarde vir besoekende spanne. Dit is geen geheim nie dat hulle voel hul betree 'n verlore vallei in bergbewoner-land," skryf Smit in Captain in the Cauldron, wat in 2009 gepubliseer is.
"Teenstanders het ons oor die jare heen vertel hoe hulle 'n sinkende gevoel ervaar soos die spanbus verder wegbeweeg van die gemak van hulle hotel in Sandton en deur die gewaagde, afgematte gebiede rondom die stadion ry. Ons het al stories gehoor van Bok-aanhangers wat die bus spoeg en klap wanneer dit by Ellispark inry.
"Die stadion binne is so goed ontwerp dat die toeskouers bo op jou sit en heeltemal in die wedstryd betrokke raak.
"Die aanhangers hou nie terug nie en sonder om snobagtig te klink, daar is iets skrikaanjaend omtrent baie van hulle.
"Die Aussies reken Ellispark is iets uit The Jerry Springer Show en dat die toeskouers byna in staat lyk tot moord."
Die All Blacks sukkel om sukses in Johannesburg te behaal. Hul algehele wenrekord teen die Bokke, hul grootste teenstander, is 58,82%, maar op Ellispark het hul nege van hul 16 toetse verloor.
Saterdag se toets skop af om 17:05.
- Sportredaksie



















